Haweloses wat by die Hugenote-treinstasie nesskop, het ’n algemene gesig geword. Hoewel die mense meer as een keer al van die private grond verwyder is, keer hulle net terug.
Prasa, aan wie die grond behoort, het vroeër vanjaar – op 15 Maart – die haweloses met die hulp van die Drakenstein-munisipaliteit laat verwyder. Die mees onlangse afsetting was op 6 Junie, maar steeds vestig heelwat mense hulle agterna onder die bome en op die perseel.
Met Paarl Post se onlangse besoek aan die gebied kon gesien word hoe die mense, wat geen heenkome het nie, hulle tuisgemaak het met alles wat hulle besit – van ou meubels en matrasse tot selfs hul rondloperhonde.
Eugene Zwaan, bestuurder van The Haven-nagskuiling in die Paarl, sê ’n toename in haweloses word gewis in die dorp ervaar, hoewel die munisipaliteit sê dit is nie so nie. Hy sê van die faktore wat grotendeels tot die haweloosheid-probleem bydra, is werkloosheid, ’n gebrek aan bekostigbare behuising en maatskaplike euwels soos dwelmmisbruik.
“Omdat werkloosheid oor die land heen en in die Paarl toeneem, sit jy met die probleem dat mense nie behuising kan bekostig nie. Iemand wat dalk ’n werk het, verdien waarskynlik te min geld en kwalifiseer dalk nie om ’n huis te koop of vir ’n Hop-huis nie, of hy is lank op die waglys. Die ander kwessie is maatskaplike omstandighede wat natuurlik te doen het met dwelmmisbruik – iets wat redelik hoog is in die Paarl.”
Volgens Zwaan ervaar hulle egter nie ’n toename in mense van die Paarl wat by die nagskuiling kom aanklop nie. Hy sê tussen 60 en 70% persent van die mense wat tans by die nagskuiling woon, is nie van die Paarl nie.
“Kyk, die nagskuiling is deel van ’n groep van vyftien skuilings wat aan The Haven Night Shelter-welsynorganisasie behoort. So, wat gebeur, is baie van die kliënte word van die Kaap en die buitewyke na ons toe gestuur as hier beddens in die Paarl beskikbaar is.
“Daar is natuurlik ook baie redes waarom mense nie na die skuiling wil kom nie. Een van die eerste redes waarom mense nie van die skuiling gebruik wil maak nie, is omdat hulle sê hulle moet betaal.”
Zwaan sê hulle gaan ’n kontrak vir drie maande aan met diegene wat by die nagskuiling hulp kom soek. Die kontrak behels dat die aansoeker vir die eerste 30 dae gratis verblyf kry. Daarna moet hy of sy R15 per dag tot die verblyf bydra.
“Ons sal nie die kliënt uitsit omdat hy nie geld het nie. Die kliënt het steeds ’n kontrak vir drie maande met die skuiling. Ons sal by ’n kliënt se kontrak hou as hy of sy glad nie ’n inkomste in daardie tydperk het nie.
“Dan het ons ook maatskaplike dienste. Die kliënte moet aan die maatskaplike dienste se vereistes voldoen, en dit is natuurlik om ons programme by te woon. Ons het verskeie programme. Ons het juis vandag (21 Junie) met een van ons middelmisbruikprogramme begin.”
Zwaan verduidelik hulle kom agter dat ’n wanpersepsie bestaan oor die doel van die nagskuiling in die Paarl.
“Die fokus wat ons gebruik, is ’n maatskaplike diens en nie verblyf nie, en die meeste van die mense van buite is eintlik op soek na verblyf. Hulle is op soek na goedkoop verblyf. Dis hoekom mense, wanneer hulle by die skuiling kom, dink hulle gaan vir ewig by die skuiling kan bly, en dit is nie ons oogmerk nie. Ons oogmerk is om mense te stabiliseer en op hul voete te kry.”
Hoewel haweloses reg oor Drakenstein plak, raak die munisipaliteit glo nie daarby betrokke nie – hy werk eerder saam met ander rolspelers as bystand in optredes waar haweloses van private grond verwyder word.
Gerald Esau, uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste in die Drakenstein, sê hulle sal voortgaan hiermee.
Esau het voorheen genoem die munisipaliteit se planne om ’n nagskuiling in die Paarl op te rig, is in ’n gevorderde stadium. “Die kontrakteur is tans op die terrein en die projek sal teen die einde van September voltooi wees.”
Verder versoek Esau die publiek om nie kos en klere direk aan haweloses te gee nie. Hy vra die gemeenskap om eerder die skenkings aan geregistreerde instellings te gee of by die Paarl-brandweerstasie af te lewer. Só sal die skenkings op ’n gestruktureerde wyse versprei word.




