Die bekende barista en radio-omroeper van die Paarl, Dillon Martin, het ’n nuwe koffie-tuiste in Doha gevind, die hoofstad van Katar.
Dillon is al jare in die koffiebedryf en die afgelope paar jaar was hy aan die stuur van die plaaslike koffie-roostery in die Paarl, AfriRoast. Dit als terwyl hy ook as omroeper gewerk het by die gemeenskapsradiostasie, PaarlFM.
Vanweë sy entoesiasme oor koffie het hy gereeld op die professionele sosialemedia-platform LinkedIn sy koffiestories en ondervindings hierop gelaai. En so het iemand bewus geword van Dillon en vroeër vanjaar het die eienaar van ’n koffiemaatskappy in Doha hom direk gekontak en ’n geleentheid aangebied wat hy nie van die hand kon wys nie.
So het Dillon vroeër vanjaar Doha toe gevlieg waar hy as hoof van koffie-rooster, gehaltebeheer, barista-opleiding, koffiekonsultant en koffie-invoerder by die grootste koffie-onderneming in Katar aangestel is.
Dillon sê hoewel die koffie-kultuur, wat reeds ’n geruime tyd gelede Suid-Afrika beetgepak het, maar nog redelik in sy beginfase in Katar is, doen die plaaslike inwoners baie deeglike navorsing en is hulle nie skaam om groot geld op goeie koffiebone en -masjiene uit te gee nie.
Dillon wil graag sy kennis en kundigheid van dié bedryf met die maatskappy deel en sodoende die besigheid nog verder laat groei, ook met nuwe kreatiewe produkte en neigings binne die koffiebedryf asook barista-kompetisies en ’n koffie-vereniging in die land van die been af bring.
Dillon sien ook daarna uit om in die nabye toekoms besoek af te lê aan van die wêreld se gesogste koffiebone-verskaffer-lande soos Colombia en Brasilië waar hy koffieplantasies namens die maatskappy sal besoek. Ook om volgende jaar sy Q-graderingskursus te doen, die hoogste kursus aangebied in koffiekunde.
Dillon se vrou, Tonya, het onlangs ook by hom in Doha aansluit. Sy moes haar werk in Suid-Afrika as finansiële konsultant prysgee, maar byna met die intrapslag het die koffiemaatskappy waar Dillon werk vir haar ’n geleentheid aangebied.
Verder sê Dillon Katar se tradisionele geregte is nie te waffers nie en hy mis Suid-Afrika se huiskos, maar voeg by hul wegneemetes is seker van die beste ter wêreld.
Dillon het kort voor die heilige maand van Ramadaan in Doha aangekom, waar die wêreld in daardie tyd taamlik tot stilstand kom. “Alles was deur die dag toe en het eers ná 18:00 oopgemaak wanneer die vas verbreek is. So, heeldag is die stad doodstil, maar dan skielik in die aand is als besig en vol.”
Dillon sê die land is maar klein en jy kan deur dit in minder as twee ure ry. “Dit is woestyn so daar is nie veel buitelewe-aktiwiteite nie.” Maar, sê hy, die stad Doha is ongelooflik met ’n groter-is-beter-aanslag op als.
“Hulle gaan groot met als. In ons vrye tyd besoek ons van die grootste winkelsentrums, markte, museums, kunsgalerye, restaurante ens. Ook weens die geloof, moes ons ook gewoond raak dat hul naweek Vrydag en Saterdag is en nie Saterdag en Sondag soos by ons nie.”
En as sportliefhebber, asook -radio-omroeper, gaan ’n hoogtepunt sekerlik die 2022-Wêreldbekersokker wees wat vanjaar in Doha gaan plaasvind. “Die stad wemel van Wêreldbeker-koors. Almal praat daaroor en jy sien en voel dit oral. Hiervoor is daar baie konstruksie wat plaasvind, hulle wil seker maak dis die beste Wêreldbeker volgens hulle.”
Dillon se hart bly steeds in die Paarl en hy kan elke Vrydagoggend op PaarlFM gehoor word waar hy sy passie uitvoer en verslag doen oor die wêreld se grootste sportgebeurtenisse.
Dillon sê Doha was wel ’n aanpassing, maar dat die groot bevolking Suid-Afrikaners wat daar woon dinge vir hom en Tonya makliker gemaak het. “Hier is tussen 5 000 en 7 000 Suid-Afrikaners en jy kan hulle onmiddellik uitken as jy hulle sien. Ons het vinnig baie Suid-Afrikaners ontmoet. Onder andere Oom Eugene, ’n Suid-Afrikaner wat al meer as 20 jaar hier saam met sy vrou en dogter woon. Hy verskaf biltong en droëwors in Katar en baie van die Suid-Afrikaners kom elke naweek by sy huis bymekaar – kyk rugby, braai en praat Afrikaans.
“Ons is ook deel van die Facebookblad South Africans in Qatar. Daar sien ons Gary van Durbanville maak lekker pies. Ons wou bestel en hy sê: Nee, ek bring vir julle gratis as ’n welcome gift!
“So help Suid-Afrikaners mekaar en dis goed om te sien. Ek wens net dinge kon ook so in Suid-Afrika wees.”
. Paarl barista and DJ tells of his new- found home in Doha, Qatar, and how he wishes South Africans in South Africa would suppot each other as well as those abroad.





