EMS-ambulansdienste in die Wes-Kaap, en oor die land heen, is hewig onderbeman. Dit plaas boonop ekstra druk op die plaaslike ambulansbeamptes wat Paarl en Wellington moet dien.
Volgens Deanna February, woordvoerder van EMS in die Wes-Kaap, ervaar die beamptes verskeie uitdagings wat buite hul beheer is. Dit kan lei tot ambulansdienste wat nie vinnig genoeg op al die noodoproepe kan reageer nie. Daar is altesaam drie ambulanse wat deur die hele Paarl moet werk, en net een voertuig wat Wellington dek.
“Nasionaal is daar tans heeltemal te min ambulanse en EMS-personeel om in die behoeftes van inwoners van die land en die Wes-Kaap te voorsien. Dit is ’n voortdurende probleem met inagneming van die groei van die land se bevolking en siektelas wat nie beperk is tot EMS-werkers alleen nie.
“Met die huidige pandemie aan die gang het gesondheidsbegrotings onder erge druk gekom en moeilike besluite moes geneem word, en word steeds geneem. Dit is dus onwaarskynlik dat die tekort aan EMS-personeel op kort tot medium termyn opgelos sal word aangesien dit afhanklik is van personeelbegroting.”
Daar was onlangs klagtes dat ambulansdienste in twee gevalle nie vinnig genoeg op die oproepe van inwoners van Vlakkeland gereageer het nie. ’n Plaaslike ambulansbeampte, wat anoniem wil bly, sê daar is ongelukkig baie redes hoekom hulle soms nie onmiddellik na ’n noodgeval kan haas nie. Hy lig uit een van die faktore is beslis die feit dat hulle onderbeman is en dat daar ook te min ambulanse is wat die groot bevolking van Paarl en Wellington moet dien.
“Jy kan nie die ambulansbeamptes blameer nie, want alles kom deur die beheerkamer en soms kom daar so baie oproepe deur. Die beste vergelyking om te maak, is om te kyk na al die polisiekantore vir die omgewing van die Drakenstein. Elke kantoor is veronderstel om drie voertuie per skof te hê, partykeer is dit meer.
“As jy na al die verskillende gebiede kyk, is daar meer as 10 polisievoertuie wat op een slag in die Drakenstein werk. Maar ons het maar net drie ambulanse vir die hele Paarl-omgewing. Dan moet jy ook die aantal mense wat gediens moet word en die oproepe wat deurkom in ag neem. So, dit gaan ’n tyd vat om by almal uit te kom.”
Hy voeg ook by dat oproepe volgens hul ernstigheid deur die beheerkamer in Worcester gerangskik word. Ambulansbeamptes mag ook nie op hul eie met gevalle werk wat nie deur die beheerkamer ingekom het nie.
Nog ’n uitdaging is die tyd wat ambulansbeamptes spandeer om ’n pasiënt te help. Een oproep kan tot ’n uur neem. Wanneer hulle op ’n ongelukstoneel aankom, spandeer hulle soms tot twee ure daar.
“Ons hanteer nie net oproepe waar mense ons van hul huise af bel nie of ongelukstonele nie. Baiekeer moet pasiënte na Tygerberg-hospitaal vir beter sorg vervoer word, en as jy nou na die afstand kyk, dan neem so ’n oorplasing na Tygerberg-hospitaal maklik tussen drie tot vier ure. Dit beteken dat daar dan net twee ambulanse in die Paarl is en dit beïnvloed ook die reaksietyd van ons mense.”
Dan is daar ook misdaad wat ’n groot uitdaging is en wat reaksietye belemmer. February sê weens veiligheidskwessies is daar Rooi Sone-gebiede waar EMS-beamptes nie toegelaat word om sonder polisiebegeleiding binne te gaan nie.
“Dit kan ook reaksietye beïnvloed aangesien polisiebegeleiding nie altyd onmiddellik beskikbaar is nie as gevolg van ander prioriteite. Die veiligheid van ons personeel is egter baie belangrik vir ons.
“Die pandemie het ook ekstra uitdagings vir alle gesondheidsorgwerkers gebring, nie net EMS-amptenare nie. Wanneer daar op Covid-19-verwante voorvalle gereageer word, moet ambulanse ’n deeglike skoonmaak ondergaan voordat die voertuig weer beskikbaar gestel kan word om op die volgende voorval te reageer.”
Mense wat ambulansdienste se tyd mors, is ook ’n groot probleem buiten die misdaad, ’n tekort aan personeel en die tye wat ambulansbeamptes by verskeie noodgevalle moet deurbring. Die anonieme ambulansbeampte kan dit nie genoeg beklemtoon nie.
“Wat ook ’n groot faktor is, is mense wat onnodig bel – hy bel, want hy voel dat hy eerste gehelp gaan word as hy by die hospitaal kom, wat nie die waarheid is nie.”
In seldsame gevalle, erken February, kom ambulanse uit Franschhoek of Stellenbosch om hul kollegas by te staan wanneer daar geen beskikbare plaaslike ambulanse is nie. Dit gebeur slegs wanneer al die voertuie van Paarl en Wellington nie beskikbaar is nie en daar kom ’n dringende oproep deur.
Inwoners wat die plaaslike EMS-lyn kontak word gevra om alle inligting van die pasiënt gereed te hê. Dit sluit in wat die persoon makeer, enige mediese toestande, medikasie wat hy gebruik, sy huidige toestand asook die presiese ligging van die persoon.
“Die publiek moet die EMS-beheerkamer van ’n selfoonnommer voorsien waar ons hulle kan kontak en hulle op hoogte hou van reaksietyd wanneer nodig.” February voeg by instruksies moet voor die aankoms ook aan die beheerkamer vir die EMS-beamptes gegee word om te verhoed dat enige tyd gemors word wanneer op ’n voorval gereageer word.
Die plaaslike EMS-ambulansdienste kan gekontak word by 023 346 6000 of 112 van ’n selfoon.
. EMS ambulance services in the Western Cape, and across the country, are severely understaffed. It also puts extra pressure on the local ambulance officers who have to serve Paarl and Wellington.




