Elmarie Berry, oud-Bloemfonteiner en deesdae ’n Kaapse sjef, droom haar hele lewe lank al om ’n resepteboek te skryf. En haar droom het bewaarheid geword met Kosbaar, wat onlangs by Penguin Random House verskyn het.
Elmarie Berry (42) onthou die dag toe sy nie geld gehad het om velle vir lasagne te koop nie. Hul twee kinders was nog klein en dit was die gesin se allerlaaste R100 wat sy gebruik het om bestanddele te gaan koop vir lasagne wat sy in foeliebakkies sou opdeel om in die kusdorp Port Alfred se strate te verkoop.
Dit was kort ná die Dinsdagmiddag dat Thian, haar man, vaal in die gesig by die huis opgedaag en vertel het dat die vliegskool waar hy gewerk het nie meer sy salaris kon betaal nie.
Maar al was dit ’n angstige tyd in haar lewe, het iets in haar haar vertel dat sy moet begin kos maak met die min wat sy het.
Berry en ’n vriendin het van onderneming na onderneming gestap, maar niemand het in die wegneemkos belang gestel nie.
Stadig, maar seker, het die bestellings tog ingekom. En so het die besigheid op dreef gekom.
Sy het kookkursusse by die huis begin aanbied, kos vir troues gemaak, en die maatskappy Pantry of Joy gestig.
Ná vyf jaar het die gesin Somerset-Wes toe verhuis vir Thian se werk, waar hulle steeds woon.
Sy het in 2015 ’n kos-blog begin en op wynplase begin werk waar sy kosresepte vir wyne ontwikkel het.
Die wêreld van kosstilering het sy luike vir haar oopgegooi en haar pad het met dié van die kosfotograaf Lindy Kriek gekruis. Hulle het Samesyn gestig en foto’s van kos op linne begin druk.
Dié onderneming het hulle in 2020 na New York laat gaan, en die Yanks het hul gedrukte reënjasse en ander produkte opgeraap.
En jare later besluit sy dit is tyd om die droom van ’n resepteboek te laat gebeur en Kosbaar het die lig gesien.
Kosbaar is ’n skatkis vol herinneringe en hartsresepte vir alle geleenthede. Ook pragtig saamgestel, te danke aan Elmarie en Lindie se fyn stilering en fotografiese vernuf.
• Een Paarl Post-leser kan ’n eksemplaar van die boek wen deur die naam van die fotograaf na 066 484 3728 te whatsapp.





