Die historiese eikebome van die Paarl is maar net van die bome wat verwoesting in die gesig staar – dit danksy ’n piepklein indringergogga wat sy verskyning in die Wes-Kaap gemaak het.

Veral bome in stedelike gebiede kan binnekort die meeste deur dié indringerspesie geraak word.

Die stompkopkewer is in 2012 die eerste keer in Suid-Afrika opgemerk en het sedertdien na agt van Suid-Afrika se nege provinsies versprei, wat dit tans die grootste uitbreking van hierdie indringerplaag wêreldwyd maak, lui ’n mediaverklaring deur die US.

Hoewel dit in die Stad Kaapstad- munisipale gebied nog net in Somerset-Wes voorkom – onder meer by die wynplase Lourensford en Vergelegen – en sover bekend nog nie in die noordelike voorstede nie – is dit “net ’n kwessie van tyd” voordat dit wel sal versprei, het prof. Francois Roets, ekoloog en medeprofessor in bewaringsekologie en entomologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), onlangs aan TygerBurger, ’n susterpublikasie van Paarl Post, gesê.

“ ’n Moontlike voorval is wel onlangs aangemeld, waarna ons nog moet gaan kyk. Maar ek glo dit gaan wel binnekort versprei na ander dele – hoofsaaklik deur die vervoer van aangetaste hout,” sê hy.

Hoewel die meeste van Suid-Afrika se mees berugte indringerspesies problematies in landelike gebiede is, sal hierdie aggressiewe indringer die grootste impak op bome in stedelike gebiede hê, lui die verklaring. Indien niks gedoen word om die verspreiding van die kewer te stuit nie, gaan 65 miljoen bome na raming verwyder en veilig tot niet gemaak moet word.

Die potensiële impak van die stompkopkewer op die ekonomie van Suid-Afrika kan ’n yslike R275 miljard oor die volgende tien jaar beloop, en munisipaliteite sal hierdie las moet dra.

Hierdie skatting is die resultaat van samewerking tussen ekonome van die US se Skool vir openbare leierskap en ekoloë van die DWI-NNS-sentrum van Uitnemendheid in indringerbiologie (SIB) by die US, die US se departement bewaringsekologie en entomologie en die Instituut vir bosbou- en landboutegnologie by die Universiteit van Pretoria.

Die span het ’n modelleringsbenadering, gegrond op voorspelde impakte, gebruik om die moontlike toekomstige impak van hierdie indringer te simuleer indien niks gedoen word om die verdere verspreiding daarvan te keer nie.

Roets, een van die medeskrywers van die artikel, sê ’n boomryke dorp soos Stellenbosch loop die gevaar om 20 000 van die groot ou eikebome en plataanbome langs sy strate te verloor.

In Somerset-Wes, waar die stompkopkewer vier jaar gelede die eerste maal aangetref is, is meer as 10 000 bome reeds aangetas en sommige van die bome is nou besig om dood te gaan.

Hy sê bome wat in stedelike gebiede voorkom, is meer vatbaar aangesien hierdie bome gewoonlik reeds stres ervaar in ’n stedelike omgewing in vergelyking met dié wat in ’n natuurlike woud, wat ryk aan biodiversiteit is, voorkom.

Die klein stukkie goeie nuus is dat die stompkopkewer slegs kort afstande kan vlieg – van 500 m tot twee kilometer.

Sy vinnige verspreiding in Suid-Afrika is dus hoofsaaklik te wyte aan mense wat hout oor munisipale en provinsiale grense heen vervoer.

Die slegte nuus is dat ’n enkele maagdelike wyfie ’n nuwe kolonie kan vestig deur slegs ’n manlike nageslag te produseer en dan met hulle te paar.

Hierdie “perfekte indringer” voorsien ook sy eie kos in die vorm van die swam Fusarium euwallaceae, ’n uitheemse spesie wat saam met die kewer in omloop gebring is, verduidelik Roets.

Navorsing is aan die gang om ’n biologiese beheermiddel teen die swam (Fusarium euwallaceae), wat met die kewer geassosieer word, te vind.

Tot nou is nog geen getoetste en goedgekeurde insek- of swamdoder in Suid-Afrika geregistreer waarmee die stompkopkewerbesmetting behandel kan word nie.

“Enigiemand wat jou vertel hulle sal jou boom red met chemiese middels en swamdoders, jok,” waarsku hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article