Olivia le Cordeur, bestuurder van Wellington-museum.


Onsekerheid oor die stand van Wellington-toerisme neem toe terwyl die Drakenstein-munisipaliteit toeriste na die Wellington-museum wil verwys om inligting te bekom. Maar, sê die Wellington-museum, hulle is nie kenners op dié gebied nie.

Die munisipaliteit het Donderdag (30 Junie) op sy Facebook-blad dit in ’n verklaring amptelik gestel dat “die historiese Wellington-museum die nuwe tuiste van Wellington-toerisme is.

“Wellington-toerisme-inligting sal van 1 Julie 2022 af by die Wellington-museum beskikbaar wees, en nie meer by die Wellington-besoeker-inligtingsentrum, wat op 30 Junie gesluit het nie.”

In reaksie op dié aankondiging het die bestuur van die Wellington-museum die volgende op sy Facebook-blad gedeel:

“Die Wellington-toerismekantoor het sy deure amptelik op 30 Junie 2022 gesluit, wat ’n groot leemte in ons dorp laat. Van 1 Julie 2022 af kan toeriste, soos in die verlede, basiese inligting by ons bekom. Dit is steeds ons prioriteit om die ondervinding vir die toeris so aangenaam as moontlik te maak.

“Ons deel graag inligting om ons dorp se beeld so goed as moontlik oor te dra, maar is gewis nie kundiges op die gebied nie. Die museum is nie die nuwe toerismekantoor nie, maar ’n verlengstuk waarby die toeris kan baat vind.”

Olivia le Cordeur, die museum se bestuurshoof, het aan Paarl Post verduidelik sy help nog altyd en met graagte toeriste wat aan die museum se deur kom klop.

“Wanneer verdwaalde toeriste voor ons deur beland, sal ek hulle nooit wegwys om elders inligting te bekom nie. Ek probeer my bes om hulle van behulpsame inligting te voorsien en te help waar ek kan. Ek weet hoe dit voel om in ’n vreemde plek te verdwaal, en daarom sal ek mense nooit net in ’n ander rigting stuur nie.”

Sy sê sy het ruimte vir ’n rak vol plaaslike pamflette beskikbaar gestel op aanvraag van die munisipaliteit.

Le Cordeur het verder sterk klem gelê op die feit dat die museum nie oor die beste kundigheid beskik wat plaaslike toerisme betref nie.

Die munisipaliteit se uitvoerende direkteur van beplanning en ontwikkeling, Jacqui Samson, sê die munisipaliteit handhaaf nog altyd ’n goeie werksverhouding met die museum.

“Ons werk gereeld saam aan verskeie erfenis-projekte met die doel dat die breër Wellington-gemeenskap daarby kan baat vind.

“Die voorsiening van relevante toerisme-inligting vorm deel van wat die Wellington-museum reeds aan die publiek offer, en daarom het ons dit goedgedink om hul ondersteuning in die tussentyd te versoek.”

Samson meen die munisipaliteit bly toegewy aan sy samewerking met die museum.

“Wat bemarking van die breër toerismebestemmings in die Drakenstein betref, is die munisipaliteit tans met verskeie belangegroepe in aanraking en sal binnekort enige vordering kommunikeer sodra dit afgehandel is.”

  • The state of Wellington tourism remains uncertain as the Wellington Museum was dubbed “the new home of tourism” by the Drakenstein Municipality last week. This prompted the head of the museum, Olivia le Cordeur, to openly declare that tourists who end up at their door, have always been accommodated to the best of their ability. “But we are by no means experts on local tourism offerings.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article