Die Drakenstein-munisipaliteit gaan in die volgende paar jaar ’n goeie geldinspuiting kry met die verkoop of verhuring van bykans 60 vakante munisipale erwe in Paarl, Paarl-Oos en Wellington.

Die erwe is in nywerheids- en woongebiede geleë.

Van die erwe wat groot belangstelling gaan wek, is erwe wat geoormerk kan word vir luukse behuising in Courtrai en Vrykyk en ook ’n gedeelte van die Parys-sportterrein en die parkeergebied van Patriotplein gaan ook in die visier wees.

Tans het die Drakenstein-munisipaliteit dié item voorgelê aan die raad vir beginselgoedkeuring vir die verhurings- of vervreemdingsproses van die erwe oor die volgende vyf tot 15 jaar. Seraj Johaar, direkteur van korporatiewe dienste van die munisipaliteit, het gesê die munisipaliteit wil verseker dat vakante grond as deel van sy vooruitbeplanning en fokus op ruimtelike ontwikkeling en ekonomiese groei ten volle benut word. Hy het bygevoeg wanneer grond vakant is, is daar altyd die risiko van grondbesetting en die munisipaliteit wil dié gevaar uit die weg ruim.

Johaar het gesê met die verhurings- of vervreemdingsproses sal van verskillende finansiële modelle gebruik gemaak word.

“Die mark sal dié proses en finansiële model bepaal. Een so ’n model sou wees om die grond te verhuur – byvoorbeeld vir die oprig van sosiale geriewe, hospitale of klinieke, waaruit minimale inkomste verhaal kan word.

“Alle toekomstige verhurings- en verkooptransaksies sal onderhewig wees aan ’n deursigtige, mededingende proses wat deur die munisipale raad goedgekeur is.”

Verder het Johaar gesê die munisipaliteit is daarop gefokus om ontwikkelingskapasiteit te skep, ekonomiese groei te stimuleer, werk te help skep vir ’n gemeenskap waarin 57% van die inwoners behoeftig is, en maatskaplike ontwikkeling te bevorder.

“Dit is presies waarom ons vroeër lenings (met ’n gesamentlike waarde van R1,55 miljard) opgeneem het om in infrastruktuur te belê.

“Dié besluit werp reeds vrugte af, wat duidelik sigbaar is in al die bouwerk en ontwikkelings wat tans reg oor die Drakenstein opgerig word. Nog ’n teken van ekonomiese groei is die munisipaliteit se waardasierol wat van ’n algehele eiendomswaarde van R55,9 miljard in 2017-’18 tot R71,7 miljard in 2021-’22 gestyg het.”

Johaar het gesê die munisipaliteit het sedert 1 Julie 2021 altesaam 1 438 bouplanne ter waarde van R2,3 miljard goedkeur, waarvan 78 kommersiële bouplanne is. Hierdie bouwerk het elektrisiteit-, riool- en waterinfrastruktuur nodig, wat nie moontlik sou gewees het as die munisipaliteit nie grootskaals in infrastruktuur belê het nie.

“Ons besluit om lenings aan te gaan om infrastruktuur vir ekonomiese groei gereed te kry, was dus visioenêr. Dit is ’n baie positiewe stap wat gevier moet word en waarmee die munisipaliteit gelukgewens moet word.”

Verder het Johaar benadruk die munisipaliteit se geldsake en kontantvloei is inderdaad baie gesond – soos die munisipaliteit maandeliks ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur aan alle partye in die raad verslag doen.

“Ons is nie onder enige druk of desperaat om geld in die hande te kry nie, en dit is gewis nie ’n kwessie van finansiële oorlewing nie.

“As die munisipaliteit finansieel in die knyp was, sou ons tariefverhogings nie laer gewees het as die meeste ander munisipaliteite nie (ons elektrisiteit- en eiendomsbelasting-tariefverhogings van 1 Julie 2022 af is van die laagste in die land).”

Hy het bygevoeg die munisipaliteit is goed geposisioneer om alle finansiële verpligtinge teenoor die verskillende banke na te kom en dié lenings teen Desember vanjaar te begin delg – teen ongeveer R21 miljoen per maand, wat die kapitaal delging én rente insluit.

As deel van goeie finansiële bestuur en die munisipaliteit se kostebesparing-fokus, het die raad ook 14 maande gelede al begin om munisipale geboue te herorganiseer ten einde optimale benutting te verseker.

Die munisipaliteit se departement van beplanning en ontwikkeling skuif van die Nedbank-gebou in Bredastraat 2022 na die Paarlse Burgersentrum, wat opgeknap is en as ’n “one-stop-shop” sal dien. In die proses bespaar hulle die belastingbetaler R4,5 miljoen per jaar. “Ons strategie is om eerder ons eie geboue te bou of te koop, pleks daarvan om huurgeld daarop uit te gee,” se Johaar.

“Die Drakenstein-munisipaliteit is besig om vorentoe te beweeg. Ons het net een fokus: om ekonomiese groei en werkskepping te stimuleer, en om uitstekende munisipale dienste te lewer. Ons vra die sakesektor en die publiek om saam met ons te werk om Drakenstein as ’n sake- en beleggingsbestemming te ontwikkel en te bevorder.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article