Die Wes-Kaapse provinsiale verkeersdiens het meer as 29 000 voertuie gestop en nagegaan tydens verskeie geïntegreerde padblokkades in dié provinsie die afgelope week.
Daylin Mitchell, die Wes-Kaapse LUR vir mobiliteit, het gister weereens dit aan padverbruikers beklemtoon dat paaie en alkohol nie ‘n goeie kombinasie is nie – of jy loop of ry.
“Alkohol en paaie meng nie. Moet nooit drink en bestuur of drink en loop nie. Selfs klein hoeveelhede alkohol kan jou oordeel as padgebruiker beïnvloed. As jy skuldig bevind word aan bestuur onder die invloed van alkohol, sal jy ’n kriminele rekord hê. Boonop kan jy die lewe van jouself en/of ‘n ander persoon neem,” sê Mitchell in ‘n verklaring.
Verkeersbeamptes het altesaam 6 525 boetes uitgereik, wat verskeie verkeersoortredings insluit. Daar is ook ‘n kommerwekkende 229 spoedoortredings aangeteken, 45 voetuie is geskut en 42 voertuie is as onpadwaardig gevind.
Dronkbestuur is dus steeds ‘n groot kopseer in die Wes-Kaap. Uit die 98 arrestasies wat gemaak is tydens die padblokkades, is daar bevind dat 73 van die bestuurders onder die invloed van drank was.
“As jy gedrink het, tref ander reëlings om by die huis te kom. As jy deur ‘n verkeerswetstoepasser voorgekeer word en die beampte vermoed dat jy oor die wettige perk is, sal jy op die plek gearresteer word,” waarsku Mitchell.
Hy het verder uitgewys watter negatiewe impak ongelukke, as gevolg van dronkbestuur, nie net het op mense se lewens maar ook die strafregstelsel.
“Ongelukke het geweldige sosio-ekonomiese impakte. Ongelukslagoffers kan gestremd wees, inkomste verloor of werk verloor. Om ‘n broodwinner te verloor, kan beteken om in armoede te leef. Om ‘n geliefde te verloor kan sielkundige trauma en ontwrigting van die gesinslewe beteken.”
Mitchell meen die tyd wat polisie- en verkeersbeamptes bestee aan drink en bestuur/loop ongelukke, veroorsaak dat hulle gesteur word in hul taak om misdaad te bekamp en die paaie veilig te hou.
“Wanneer polisie- en verkeerswetstoepassers in die hof vasgebind word met sake wat bestuur onder die invloed van drank behels, het hulle minder tyd om die publiek veilig te hou. Gevalle van bestuur onder die invloed vertraag ook die strafregstelsel.”
- Altesaam 22 ongelukke en 24 sterftes is op die Wes-Kaapse paaie aangeteken tussen 4 en 10 Julie.





