Verlede week is die Cravenweek vir jong rugbyspelers in die Kaap gehou waar die Westelike Provinsie weer eens presteer het. Selfs die WP se sogenaamde B-span het die Vrystaat, een van die sterkste provinsies, pak gegee.
Wat egter soos ’n seer duim uitgestaan het, is die vertonings van die Boland. Die provinsie se seuns kon net nie die mas opkom nie.
Dit sou egter ’n ander storie gewees het as skole wat nou vir die WP speel as voedingsbron vir die Boland gedien het.
Die Paarlse skole, HJS, Gimnasium en Boland Landbou, behoort glad nie vir die WP te kwalifiseer nie. Geografies is die Paarl in die Boland. Hy is op administratiewe gebied ook onafhanklik van die Kaapse metropool.
Die WP het oorgenoeg skole in sy gebied waaruit hy kan kies. Daar is die groot seunskole in die Suidelike Voorstede soos Rondebosch, Bishops en Wynberg. Verder het die WP ook toegang tot die hele Kaapse Vlakte en die Tygerberg.
Die rugbybase moet daaraan dink om die speelveld meer gelyk te maak.
Gee die Paarl se skole vir die Boland en jy sal sien dat die provinsie sy stem dik maak op die rugbyvelde.




