Die personeel van die Drakenstein Intermediate Care Facility in New Orleans is: Meagan Mike, Francis Onverwacht, Florencia Visser (ingeskrewe verpleegkundige), sr. Fraulein Theo (fasiliteitbestuurder), Moira Levember, Rosaline Simons (versorger) en Edith Markus (versorger). Agter: Ashley Felaar. Foto: Liezl Davids


Die Drakenstein Intermediate Care Facility in New Orleans, Paarl-Oos, se naam is onlangs verander en so ook die hoofdoel van dié sentrum.

Dié sentrum het voorheen as die Luthando Frail Care Centre bekend gestaan.

Volgens sr. Fraulein Theo, die fasiliteitbestuurder by Drakenstein Intermediate Care Facility, is die sentrum se hoofdoel nou die rehabilitasie van pasiënte en in ’n minder mate die versorging van pasiënte wat baie verswak het of terminaal siek is.

Sy verduidelik dat die sentrum pasiënte onder meer help met rehabilitasie ná ’n beroerte, amputasies, kopbeserings en beenbreuk-operasies en hulle bied ook ’n diens waar pasiënte wat tuis deur familielede versorg word en die familielede het ’n ruskans nodig, kan die pasiënte vir twee weke by die sentrum versorg word. Theo verdui­delik pasiënte wat vir rehabilitasie daar is, kan vir tot ses weke by hulle behandel word. “Ons pasiënte kry twee tot drie keer ’n week fisio- en arbeidsterapie”.

Volgens Theo het die sentrum 14 beddens beskikbaar en namate die behoefte kan hulle al 14 beddens op ’n keer benut.

Theo verduidelik pasiënte kan op verskillende wyses na hulle verwys word.

“Die oorgrote meerderheid van pasiënte word van die hospitaal af verwys. Pasiënte se families kan ook self die sentrum by 021 862 5004 skakel.

“Pasiënte word ook van klinieke af verwys en maatskaplike werkers kan ook verwysings doen.”

Sy noem ook dat pasiënte moet instem om daar behandeling te ontvang en ’n pasiënt kan nie sonder sy of haar toestemming toegelaat word nie.

Theo sê omdat hulle ’n organisasie sonder winsbejag is, trek hulle soms finansieel swaar en die sentrum moet dus dikwels op vrywillige skenkings staatmaak.

Sy sê hulle ervaar dikwels uitdagings wanneer die fasiliteit pasiënte se maatskaplike probleme tuis ook by die fasiliteit moet hanteer. Sy sê ook baie families kom ook baie keer nie hul familielid haal wanneer hul verblyftydperk verby is nie.

“Ons kan ongelukkig nie permanente verblyf verskaf nie.”. Lede van die publiek wat graag die Drakenstein Intermediate Care Facility wil ondersteun, verwelkom die sentrum enige skenkings van toiletware asook hulp om die gebou te verf, aangesien dit vir hulle ’n groot uitdaging is. Vir meer inligting, bel Theo by 021 862 5004.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article