Byna 18 miljoen hektaar, oftewel 17% van die land se natuurlike en semi-natuurlike gebiede, word op verskillende indringingsvlakke deur ’n reeks uiteenlopende indringerplante geraak. Op hierdie foto kan daar ook duidelik gesien word hoe Paarlberg vervuil is met indringerbome.


Die ernstige ekologiese en sosio-ekonomiese invloed van uitheemse indringerplante in Suid-Afrika het tot omvattende navorsing en mitigeringstrategieë op die gebied van biologiese indringing gelei. Wat egter kort, is ’n moniteringstelsel wat op nasionale vlak akkurate en betroubare data kan verskaf oor hoe volop dié plante is en van hul verspreiding oor die land heen.

“Dié verspreidingsdata is onder meer nodig vir hoëvlak-beleidsformulering, strategiese beplanning en die bepaling van bestuurskoste, asook vir die gedetailleerde monitering van die uitwerking van mitigasieprogramme wat ten doel het om indringerspesies doeltreffend te bestuur en die land se ryk biodiversiteit te beskerm,” sê dr. Ian Kotze van die departement bos- en houtwetenskap in die fakulteit AgriWetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US).

Kotze het vir sy onlangse doktorale studie aan die US ’n streng statistiese en kostedoeltreffende moniteringsmetodologie ontwerp en toegepas, gegrond op ’n sekondêre meting of steekproef van die omvang en hoeveelheid belangrike uitheemse indringerplante in Suid-Afrika. Hy het verskillende steekproefontwerpe vergelyk en ontleed op grond van hul doeltreffendheid om die omvang en hoeveelheid van hierdie indringerspesies oor verskillende omgewingskategorieë heen en in herhaalde oorsigsimulasies te beskryf.

Hierdie oorsigbenadering is een van die eerste sulke stelsels wêreldwyd wat oor so ’n groot geografiese gebied getoets en geïmplementeer is, sê Kotze.

Dié benadering vorm die basis vir herhaalde inventarisse oor tyd heen en maak die langtermyn-monitering van spesies moontlik.

“Die oorsig wat op nasionale vlak vir Suid-Afrika geïmplementeer is, het uit 55 461 steekproefpunte bestaan, wat oor ’n tydperk van 12 maande waargeneem is. Die ontleding van die data toon dat 18 miljoen hektaar, of 17% van die land se natuurlike en semi-natuurlike gebiede, op verskillende indringingsvlakke deur ’n reeks verskillende uitheemse indringerplante geraak word,” het Kotze verduidelik.

Die drie belangrikste spesies wat beslaande oppervlak betref, is Acacia mearnsii (swartwattel), gevolg deur Eucalyptus (gombome) en Pinus-spesies (dennebome). Die fynbosbioom word die ergste geraak, gevolg deur die grasveld- en savanna-biome.”

Dit is belangrik om data oor indringerplantverspreiding en -hoeveelhede op hierdie skaal te meet om intervensie- of mitigasiestrategieë op ’n nasionale vlak te prioritiseer, het Kotze verduidelik.

“Ondanks die sukses van talle mitigasiestrategieë, skiet hulle steeds tekort aan betroubare protokol om die verspreiding van uitheemse indringerplante oor uitgebreide gebiede te bepaal. Dit maak dit moeilik om te monitor hoe ver en wyd hierdie indringerspesies versprei het en hoe volop hulle oor tyd geword het.

“Die beskikbaarheid van sulke data is van deurslaggewende belang vir mitigasiestrategieë soos ons voortgesette Werk vir Water-program – ons grootste verwyderingsinisiatief van uitheemse indringerplante, wat in 1996 deur die regering begin is om uitheemse plantindringing aan te pak deur meganiese en chemiese beheermetodes in uitgesoekte gebiede te kombineer en deur werklose mense van plaaslike gemeenskappe in diens te neem.”

Kotze wys voorts daarop dat Suid-Afrika die Konvensie oor Biologiese Diversiteit (KBD), ’n internasionale ooreenkoms wat ’n betekenisvolle vermindering van biodiversiteitsverlies ten doel het, onderteken het. Die KBD het 20 biodiversiteitsverwante teikens gestel om dit te bewerkstellig.

“Bepaalde meetbare sleutelaanwysers word gebruik om vordering met hierdie teikens te kwantifiseer en te monitor. Die monitering van die omvang en hoeveelheid indringerspesies word as ’n sleutelaanwyser beskou om die status van indringing te beoordeel.”

Buiten die Water vir Werk-program het landboubesproeiingsrade, nasionale parke, natuurreservate en munisipaliteite reeds sy data vir hul strategiese besluitneming, beplanning en implementering gebruik, het Kotze gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article