So lyk die sypaadjie voor ’n haarkappersalon in Kerkstraat in Wellington saans in die koue. Talle haweloses gebruik enigiets om die winterkoue te weerstaan.Foto: Christine Marais

Credit: SYSTEM

Maande is verby sedert die Drakenstein-munisipaliteit (DM) aangekondig het dat die Wellington-nagskuiling teen Maart vanjaar in gebruik geneem sou word.

Tot vandag toe staan die deure van die vragskiphouers wat in leefbare kamers omskep is steeds toe. Nog geen hawelose kon in die winterkoue in een van dié kamers skuil nie.

’n Lid van die Wellington-belasting­betalersvereniging, Christine Marais, het ’n sterk bewoorde navraag aan DM gerig met die hooffokus op wanneer die nagskuiling operasioneel sal wees.

“Nog ’n winter is verby. Ironies genoeg word ons, dié wat vir die nagskuiling baklei, vir al wat sleg is uitgekryt. En dit nie net deur straatslapers nie,” maan Marais.

Sy het ook op die tenderproses wat DM vir die bestuur van die nagskuiling oopgestel het, gewys.

Die sluitingsdatum vir die tender was 30 Junie.

“Intussen verval die dorp as gevolg van wetteloosheid. Wellington word deur vullis en onhigiëniese toestande verswelg . . . ’n direkte uitvloeisel van voete wat sleep oor ’n nagskuiling.”

Die uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, Gerald Esau, sê die nuwe datum vir die nagskuiling se opening is 1 September.

“As deel van DM se omvattende en holistiese benadering oor maatskaplike bystand en herintegrasie van haweloses in die munisipale gebied is ’n tender op 9 Junie geadverteer.”

Esau verduidelik dat die tenderproses vir die bestuur en bedryf van houer-oornagskuilings in Wellington en die Paarl oopgestel is.

Hy het ’n lys van kriteria genoem waaraan die tender moet voldoen.

Dit sluit onder meer die volgende in:

. ’n Geregistreerde maatskaplike werker en maatskaplike hulpwerker;

. Moet ’n geregistreerde nie-winsbejagte organisasie wees;

. Moet fokus op gesinsintervensie;

. ’n Goeie begrip van die norme en standaarde vir skuilings hê;

. Moet ’n oordragbetalingsooreenkoms (TPA) met die departement van maatskaplike ontwikkeling hê;

. Moet ’n rekord van goeie bestuur verskaf;

. Moet ondervinding hê van herintegrasie en nasorgdienste vir straatbewoners.

Esau sê egter die munisipaliteit het geen aansoeke vir die tender ontvang nie.

“Diegene wat navraag gedoen het, het nie aan die bostaande kriteria voldoen nie.

“Aangesien geen aansoeke ontvang is nie, sal DM nou vier organisasies nader, waarvan G-Voucher een is, om voorleggings aan ’n paneel te doen oor hoe om die nagskuiling te bestuur en te bedryf.”

  • The Drakenstein Municipality announced months ago that the Wellington homeless shelter would open soon. However, the converted ship containers that were upgraded for occupation remain closed to the homeless during another cold winter. A panel is to decide on the management structure of the shelter, to be unveiled on 1 September.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article