Elke donker wolkie het ’n silwer randjie.
Die Wellington-DBV kan hiervan getuig toe skenkings van Checkers en verskeie ander gemeenskapslede ingestroom het nadat liefdadigheidsgeld oor die naweek van die dierebeskermingsvereniging gesteel is.
“Wellington en al sy mense het ons verwagtings ver oortref met hul barmhartigheid, en ons kan nie genoeg dankbaarheid toon nie,” sê Elizabeth Down van die DBV.
Dit volg nadat geld wat by die DBV se boekverkoping by die Welgeleë Plein-winkelsentrum ingesamel is Saterdag onder die tafel uit gesteel is.
Intussen het bestuurders van Checkers na die DBV uitgereik met twee trollies vol honde- en katkos ter waarde van R2 000, boonop ’n geskenkbewys vir nóg R2 000 om verdere verligting in die toekoms te verleen.
’n DBV-vrywilliger wat tydens die diefstal aan diens was, sê hy en sy vrou het die stalletjie beman.
Die boekstalletjie is tesame met ander tafels in ’n u-formaat binne die winkelsentrum, tussen die ingange van Checkers en Clicks, opgeslaan.
Vier mense, twee mans en twee vroue, het om 13:15 die boekstalletjie genader.
“Dit het gelyk soos twee paartjies wat moontlik in verhoudings is. Hulle het belangstelling in die boekverkoping getoon.
“Die een paartjie het ons aandag na die een punt van die stalletjie afgelei.
“Dit, terwyl die ander man naby die tafel waar die geldkissie weggesteek was, gebuk het om glo sy skoenveters vas te maak.”
Binne ’n kwessie van minute nadat die twee paartjies weggestap het, het die DBV-vrywilligers besef dat die geldkissie skoonveld is.
“Ek kon nogal agterkom iets in hul gedrag is suspisieus, maar hulle was so uitgeslape dat ons nie besef het wat aan die gang is nie,” vertel die vrywilliger.
’n Saak van diefstal word deur die Wellington-polisie ondersoek.
Die voorval het daartoe gelei dat die Wellington-DBV die volgende in ’n Facebook-inskrywing geplaas het:
“Ons vrywilligers offer hul tyd op om fondsinsamelings te reël, goedere te sorteer, pryse saam te stel, die stalletjie op te slaan en ure lank boeke te verkoop.
“Dit alles om die DBV te help om kos en ander basiese benodigdhede in te samel, sodat al die diere wat mense weggooi, versorging kry.
“Wat staan ons nou te doen? Fondsinsamelings is ons hoofstroom van inkomste. Moet ons alle dienste laat vaar aangesien ons nie meer veilig voel om dié uitreikings te doen nie?”
Die Wellington-DBV het Sondag nóg ’n Facebook-inskrywing gedeel, wat dank betuig aan diegene wat ná afloop van die diefstal geld geskenk het.
* The Wellington SPCA Book Fair fund-raiser that was stationed at the Welgeleë Plein shopping centre on Saturday was spoiled by a theft incident. According to SPCA volunteers, the fundraiser’s money box was allegedly stolen around 13:15 by two couples (two men and two women), who were browsing books on sale.
A case of theft is being investigated by Wellington police. This was met with gracious donations from the community and the local Checkers.





