’n 19-jarige seun is Sondag omstreeks 01:00 in Klapmuts doodgesteek.

Volgens sers. Bernadene Arendse, Klapmuts-polisiewoordvoerder, het een van hul polisiebeamptes op ’n klipgooi-klagte gereageer toe die gemeenskap hom in kennis gestel het van die seun wat gesteek is. Lede van die gemeenskap het die beampte ingelig dat die slagoffer na die La Rochelle-plakkerskamp geneem is.

“Met die aankoms van die beampte [by die woning waar die oorledene was] het die oorledene in ’n stoel gesit. Dit was duidelik dat hy reeds dood is. Hy is in sy linkerbors gesteek.”

Volgens inligting het die oorledene saam met vriende geloop toe hy drie ander mense gekonfronteer het. Dit is nie duidelik of ’n onderonsie ontstaan het nie, want die oorledene se vriende het tydens die konfrontasie weggehard­loop en kan nie verduidelik wat agterna gebeur het nie.

Arendse het bevestig dat ’n 16-jarige seun tot dusver in hegtenis geneem is vir die moord.

In ’n afsonderlike voorval, ook Sondag, is ’n wegneempizzarestaurant by die Winelands-sentrum in Klapmuts beroof. Dié voorval het omstreeks 18:00 gebeur. Terwyl die bestuurder en ’n kassier van die restaurant agter die toonbank gestaan het, het ’n man skielik nader gestap. Hy het vir hulle sy vuurwapen gewys en gesê hulle moet al die geld wat in die kasregister is in sy rugsak pak.

Kort daarna het nóg ses mans van buite gekom en die personeel na die kantoor in die agterkant geneem. Daar het die verdagtes aangedring dat die personeel die kluis moet oopmaak.

Arendse sê die mans het met R150 kontant weggekom wat in die kasregister was, en meer as R115 000 wat in die kluis was. Hulle het ook vier selfone gebuit. “Die mans het in die rigting van die R44 gevlug.”

  • Enigiemand wat inligting het wat speurders kan help in die twee onderskeie sake van moord en gewapende roof kan die Klapmuts-polisie by 021 875 8000 kontak, of skakel die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article