Interskole 2022 is hier en die Paarl wemel tans van duisende besoekers wat deur skolesport van die boonste rakke hierheen gelok word. Op die foto is die onderskeie dirigente, sjampanjenooiens en rugbykapteins van die Hoërskool Gimnasium en Hoër Jongenskool. Van links is Werner Brand, Lize Rossouw, Philip-Albert van Niekerk, Juan Smal, Adri Carstens, Hanru Rust (Boishaai- gelukbringer), en Kai Marsberg. Heel voor is die bekende Gimmie-gelukbringer, Nols Lees die spesiale interskolefees-bylaag binne. Foto: Lise Beyers


Die Paarl bars tans behoorlik uit sy nate met Interskole 2022 wat aangebreek het. En vanjaar loop die koors behoorlik hoog ná ’n interskole- en derby-droogte van twee jaar weens die covid-pandemie.

Annelize Stroebel van Drakenstein-toerisme sê dit is verblydend vir toerisme in die vallei om weer die grootste derby ter wêreld hier te hou.

Sy sê buiten die geweldige ekonomiese inspuiting wat die Interskole beteken, is dit ’n groot hupstoot vir die vallei se gemoed en gees.

“Dit is baie goed om te sien hoe bedrywig die dorp en die restaurante en hoe vol gastehuise vol is. Ons wens die skole alle sukses toe. Dit is sekerlik die hoogtepunt van almal se skooljaar.”

Dirk Breytenbach, voorsitter van die Drakenstein-sakekamer, sê die ekonomiese waarde van die Interskole-byeenkoms is elke jaar enorm en die afgelope twee jaar se Interskole-leemte is beslis gevoel.

“Dit is nie net groot sakeondernemings, gastehuise en dies meer wat hierby baat vind nie, maar selfs die klein ondernemings wat koeldrank of tjips verkoop.”

Hy sê dit is ook ’n positiewe gebeurtenis vir die gemeenskap se gemoed om uiteindelik van die Covid-19-maatreëls verlos te wees en weer op groot skaal bymekaar te kan kom.

Die volgende paar dae sal immers nog ’n verdere toestroming van “old boys en girls” na die dorp sien wanneer talle reünies die naweek gehou word.

Derek Swart, Boishaai (vanjaar se gasheerskool) se hoof, sê: “Om ná twee jaar weer by die Interskole betrokke te wees, besef ’n mens weer die diepgaande invloed hiervan. Die hele dorp is vir twee weke in twee gemoedelike, maar baie mededingende groepe, verdeel.

“Entoesiastiese besoekers stroom van oor die wêreld heen hierheen, en mense se blote passie vir en trots in hul skole as simbole van uitnemendheid is vanselfsprekend.”

Eddie Bateman, die Gim-skoolhoof, sê die afgelope twee jaar was baie teleurstellend toe die covid-virus ’n stokkie voor Interskole gesteek het. “Daarom is ek seker alle spelers, afrigters en ondersteuners gaan 2022 se Interskole met ongetemde opgewondenheid aanpak!

“Die droogte van 2020 en 2021 op ons sport- en sosiale kalender is uiteindelik verby. Daarom sal elke oomblik in die opbou tot Faurestraat se wedstryde hierdie jaar sonder twyfel met albei hande aangegryp word.”

* Not only is Paarl Interschools a highlight on Paarl’s sporting calendar, but it brings a huge economic injection to the area.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article