Die land is in sy peetjie. Ons is gatvol vir paaie met slaggate so groot soos Kimberley se gat. Ons kinders kan nie eens meer ordentlik lees en skryf nie. Ons mense sterf soos vlieë in die townships, terwyl nog ’n kommissie van ondersoek aangestel word om die laaste paar biljoene wat weggeraak het op te spoor. Nog ’n trein het ontspoor en ons sukkel om by die werk uit te kom.

Dis asof ek die stemme van miljoene mede-Suid-Afrikaners hierin kan hoor. Stemme wat al bykans moeg gepleit is om die verandering, waarna almal van ons post-’94 so uitgesien het, te sien en te beleef. Dis bykans dertig jaar daarna en dit voel asof dinge net vererger. Asof die liggie in die tonnel al flouer begin raak. Dis asof die alledaagse bestaan in ons mooi land in ’n rillerrolprent ontaard het en jy wens alles wil net tot ’n einde kom, want hoeveel kan ons nog verdra en verduur?

En vir ’n oomblik het ’n mens nodig om die rillerrolprent onder die vergrootglas te plaas en te probeer sin maak van wat tot die huidige toedrag van sake bygedra het. Dis nie moeilik om tot ’n voorlopige of finale konklusie te kom dat die huidige stand van sake in ons mooi land, gedeeltelik of volledig geplaas kan word voor die deur van hulle wat veronderstel is om die sake van die dag namens ons landsburgers te bestuur (makro-vlak). Ons politieke leiers. Daai manne en vroue vir wie ek en jy gestem het. Baie was en is al gesê oor die groot mate van onbeholpenheid, onkundigheid en sommer plein slapgattigheid wat daar bestaan by dié groep in ons Suid-Afrikaanse politieke landskap wat ons verkiesing ná verkiesing hoop en vertrou die land se sake na behore sal bestuur. Deesdae wonder die meeste van ons seker of die moontlikheid daarvan ooit tot sy volle reg sal kom. Die pakkies van uitnemendheid wat in ons huidige politieke landskap bestaan, lyk maar bitter skraal.

Met Madiba-dag nog vars in die geheue wonder ’n mens al meer of die ware vooruitgang vir ons land nie juis lê in die hande van gewone Suid-Afrikaners, wat al meer hul stemme laat hoor, maar wat meer nog, deur hul aksies ons land kan maak werk. Ons mense is honger vir goeie nuus. Honger om uit te styg bo die verstikkende klaagliedere wat elke dag in ons land afspeel. En Madiba-dag kom herinner baie van ons net weer daaraan. Die wonderlike, magiese samehorigheidsgevoel wat die dag vir soveel Suid-Afrikaners steeds meebring en inhou. Om goed te doen. Om ’n verskil te maak en om dit op skou te sit vir almal om te waardeer. Is dit egter genoeg? Dalk nie, maar vir seker is dit ’n goeie aanknopingspunt om die krag wat in ’n land en sy mense lê ten toon te stel. Ek wil my verstout om te sê dat meer daarvan nodig is in die tye en era waarin ons onsself as ’n land bevind.

Wyle Tata Madiba was die toonbeeld van dít wat ons as nasie vandag meer as ooit tevore so broodnodig het. Iemand wat die hand na ander uitgereik het en wat opgestaan het teen onreg wat plaasgevind het. Iemand wat ’n nasie kon verenig op soveel verskillende vlakke en wat daarna gestrewe het dat die lewe vir elke Suid-Afrikaner beter word en nie slegter nie. Met die huidige morele diskoers wat so duidelik te bespeur is in ons mooi land het dit dalk tyd geword dat elke gewone Suid-Afrikaner, binne die raamwerk van ons land se konstitusie en ander landswette, ons stemme duideliker laat hoor.

In so ’n mate dat ons politieke leiers sal besef dat die tyd vir politieke magspeletjies lankal verby is want ons mense ly daaronder en ons konstitusionele regte en voorregte word daardeur verkrag. Ek wil my verstout om te sê ons mense is moeg daarvoor om aan die neus gelei te word deur politieke opportuniste wat verkiesing ná verkiesing net leë beloftes maak. Dat ons mense oor die intelligensie beskik (al is dit ná amper drie dekades) om deur die stukkende geraamtes te sien en die regte ding te doen. Deur as nasie saam te staan en ons mag te wys en ons stemme te laat hoor teen diegene wat dink hulle sal vir ewig die septer kan swaai met hul skadelike en skandelike magsvergrype.

Duidelike voorbeelde van hoe ons nasie kan saamstaan, is legio. Covid-19 is ’n bewys daarvan. Vloedskade en droogtes het onderstreep die welwillendheid onder Suid-Afrikaners is eg en patrioties van aard. En as die slaggate in ons mooi dorpe blykbaar nie meer die verantwoordelikheid van die plaaslike regering is nie, dan spring ons mense self in en kry die werk gedoen. En mag die partye wat eintlik daarvoor verantwoordelik is sommer skaam kry (dis as daar nog enige greintjie skaamte oor is) en inteken op daai opvolgkursus oor hoe om ’n munisipaliteit of land te bestuur. Ons geduld was en word tot die uiterste beproef. Ons land en ons mense verdien beter.

Long live the spirit and legacy of tata Madiba, long live!”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article