Een van die nuushoofopskrifte oor die kragkrisis wat aandag lok, is Eskom se besluit om voormalige senior bestuurders en ingenieurs weer in diens te neem.
Die redes wat tot dié besluit gelei het, is voor die hand liggend, aangesien die kragkrisis ons land se produktiwiteit vir die hoeveelste agtereenvolgende jaar kniehalter.
Onder meer is dit ’n gevolg van die “breindrein” wat maak dat gekwalifiseerde kenners die land verlaat omdat hul kennis en vaardighede elders beter vergoed word. (Om nie eens te praat van lewensgehalte nie.)
Maar wat is die rede dat die voormalige senior Eskom-werkers daar weg is? Dit laat ruimte vir tonne bespiegeling, waarvan sommige ras- en geslagsverwante redes kan insluit.
Die probleem in SA, en met Eskom as ’n voorbeeld daarvan, is dat “gelykheid” ’n doelwit is wat ver bo enigiets anders, soos meriete en sukses, geprioritiseer word.
Die probleem met gelykheid, of vorms van Marxisme / sosialisme, is dat dit gelykheid waarborg, al beteken dit dat almal gelyk sal wees – op die ashoop van SA se mislukte staat.




