Kyk, as daar ouens is wat baie liefde vir hul tuisdorp het, is dit Audrin van Schoor en Theo Smouse. Hul trots is só groot dat hulle dit in ’n onderneming omgeskep het, en nou deel baie inwoners van Paarl en Wellington daardie liefde saam met dié twee.
Dit het alles in Maart 2020 begin toe die idee by Van Schoor opgekom het om kledingstukke soos T-hemde, musse, sweetpakbaadjies en sokkies te verkoop waarop duidelik geskryf staan: “I love Paarl”. Love is natuurlik vervang met die hartjie-simbool. Hy is in die Paarl gebore en het hier grootgeword, maar woon al die afgelope nege jaar in Pretoria saam met sy vrou en twee kinders. Van Schoor sê hy wou net ’n T-hemp of enige kledingstuk met trots dra en te spog waarvandaan hy kom.
“Jy wil altyd iets hê wat jou aan ’n plek herinner. Ek het net die idee gekry as jy reis, koop jy altyd iets van die plek [wat jy besoek]. Toe sê ek I love Paarl sal werk met die buitelanders wat ook in die dorp kom bly of vakansie kom hou. Die belangrikste was om die liefde en trots in die plaaslike gemeenskap terug te saai.”
Maak nie saak waar hy homself in die wêreld bevind nie – vir Van Schoor sal die Paarl altyd sy tuiste wees. In Pretoria besit hy sy eie gimnasium en hy is ook ’n persoonlike afrigter. “My familie is nog in Paarl. Paarl is nog altyd my huis. In die Paarl ken almal vir almal. Die liefde vir sport in die Paarl is groot – ek love dit. Ek mis vir seker ’n gatsby en ’n vis-parcel, want jy kry dit nie in Pretoria nie.”
Ses maande nadat I love Paarl die lig gesien het, het dit by Smouse opgekom om iets soortgelyks vir die inwoners van Wellington te doen. En so is I love Waks op 24 September 2020 op ’n koringland op ’n plaas buite Wellington gebore. Volgens Smouse het hy altyd gevoel ’n mens moet met trots kan wys waar jy vandaan kom. Die inperking was ook ’n groot motivering wat Smouse aangepor het om lewe in die idee te blaas. Hy is ’n trotse Wellingtonner, en woon al sedert 1997 in dié dorp.
“Ek het besef ons maak te veel staat op toeriste en gedurende die grendeltyd was ons grense gesluit. Dit was ’n gulde geleentheid om die produkte aan ons plaaslike mense te bemark. Ek het toe besef plaaslike mense is ook baie trots op hul onderskeie dorpe, maar niemand maak voorsiening vir ons plaaslike mense nie,” vertel Smouse.
Smouse werk voltyds by Mahindra Paarl, waar hy verantwoordelik is vir verkope, korporatiewe verkope en ook bemarking. Met Van Schoor wat in Pretoria is, help Smouse ook met die bestuur van I love Paarl se sake hier op tuisbodem.
Saam is die twee vriende ’n dinamiese span en het hulle inwoners van die Paarl en Wellington opnuut laat besef hoe lief hulle vir hul dorp is.
Smouse voeg by hulle maak ook voorsiening vir ander dorpe binne die Drakenstein, soos Saron en Hermon.
Enige versoeke of bestellings kan per e-pos aan Smouse gestuur word by theofolussmouse03@gmail.com.
Alle produkte is ook op die onderskeie Facebook-blaaie Paarl Clothing en Waks beskikbaar.
* Audrin van Schoor and Theo Smouse turned their love and pride for their home towns into a business, and now many residents of Paarl and Wellington share that love with the two of them.





