‘n Paarlse wynboer is Woensdagaand in ‘n plaashuis teen die hange van Paarlberg aangeval en vir ure deur rowers gevangene gehou.
Mary-Lou Nash van Renosterkop-plaas in die Agter-Paarl, wie in die vorige seisoen van Boer Soek ‘n Vrou verskyn het, het omstreeks 22:15 ondersoek in die huis ingestel nadat sy ‘n geluid gehoor het.
Sy het aan Paarl Post vertel dat sy skielik vanuit nêrens deur vier mans, wat met messe gewapen was, oorval is.
Sy is deur hulle vasgebind waarna die mans die huis geplunder het. Nash sê dat hulle hul tyd geneem het en noukeurig na waardevolle goedere gesoek het.
Sowat twee ure later het hulle die plaashuis verlaat met verskeie elektroniese items, juwele, kontant en klere.
Kort nadat die aanvallers die perseel verlaat het, het Nash daarin geslaag om haarself los te worstel en het om hulp gesoek.
Verskeie soortgelyke aanvalle het al in die verlede plaasgevind in hierdie gebied. Daar word vermoed dat die aanvalle uitgevoer word deur ‘n georgasiseerde misdaadbende. Hulle is volgens hul slagoffers goed geklee en is waarskynlik nie Suid-Afrikaans burgers nie.
Die nabygeleë eienaar van Fairview-landgoed, Charles Back, is vier jaar geledein ‘n soortgelyke voorval aangerand.
Niemand is nog vir hierdie aanvalle vasgetrek nie.





