Vliegkaartjies na Mauritius vir ’n week se vakansie op dié eiland is iets waarvan baie mense droom. Dit is een van die pryse wat op 9 Oktober by Paarl Rotary se jaarlikse Wine and Good Taste Charity-veiling by die Laborie-wynlandgoed te wen is. Die prys sluit vliegkaartjies en verblyf in die eksklusiewe La Pirogue-oord in.
Die veiling pronk ook met ’n groot versameling voorkeurwyne, opgeveil deur die bekende televisiepersoonlikheid Dan Nicholl. Talle interessante gasvryheidsartikels sal saam met versamelaarsartikels opgeveil word, soos die dienste van ’n sjef, wat ’n maaltyd van jou keuse – met wynparing – vir jou en jou vriende en familie sal voorberei.
Wildritte en verblyf in luukse boetiekhotelle is ook op die veiling, terwyl ’n kunsveiling ook gehou word.
Liefdadigheidsorganisasies, waaronder opvoedingsentrums wat deur Paarl Rotary ondersteun word, kry die opbrengs. Kaartjies kos R450, en sluit ’n driegangmaaltyd met wyn in. . Kontak Gerald Truter by 082 559 8746 of geraldtruter@gmail.com vir nog inligting.



