In ooreenstemming met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se missie om die onderbeligte geskiedenisse van Afrikaans na te vors en te belig, bied die instelling ’n uitstalling oor Khoekhoen-Afrikaans in die Groen Galery aan.

Die tydperk direk voor die vestiging van die Nederlandse verversingstasie aan die Kaap, tussen 1595 en 1652, word beskou as die eerste fase van die taalgeskiedenis van Afrikaans. Voorbeelde van vroeë Khoekhoen-Afrikaans kan in verskillende latere variëteite van Afrikaans gesien word, soos Griekwa-Afrikaans, en in die oudste optekening van enkele woorde wat tans in algemene Afrikaans voorkom.

Die Khoekhoen het vee aan die besoekende Nederlandse skepe verskaf. Die seelui het Khoekhoen-woorde aangeleer en die Khoekhoen het die Nederlands van die seelui probeer napraat, en só het ’n aanleerderstaal ontstaan. Ruilhandel, skermutselings en skeepstrandings in Tafelbaai was ook ’n geleentheid vir die Khoekhoen om Europese tale te leer. Die besoeke van die vroeë Nederlandse seevaarders en gevolglike kontak met die Khoekhoen het reeds vroeg ’n vorm van Nederlands (die dialektiese spreektaal van die laat 1500’s en vroeë 1600’s) aan die Khoekhoen bekend gestel en sou later ’n rol in die ontwikkeling van Afrikaans vervul. Gegewens dui daarop dat Khoekhoen se invloed op Afrikaans in bepaalde gebiede, gedurende verskillende tydperke en tussen groepe wat verskeie variëteite van Afrikaans gepraat het, plaasgevind het.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is die missie van hierdie lewende instelling om onder meer die ryke diversiteit van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis asook haar moderne gedaantes te vier. “Die meeste besoekers stel nie net baie belang in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar is ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van Afrikaanssprekende Afrikane.”

Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur, en daarom word hy vereer deur dié buitelug-galery waar sy as in ’n rots ingemessel is, omring deur inheemse olienhout en graniet. ’n Uitstalling van veral opkomende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in dié galery se uitstalkaste van herwinde hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus. Die Khoekhoen-uitstalling kan tot Oktober fisiek besoek word, maar dit en vorige uitstallings is aanlyn by taalmuseum.co.za/groen-galery/ te sien.. Skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg die STM op Facebook vir nog inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en die Taalmuseum.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article