As ’n ouer is daar baie dinge wat deur my kop gaan ná afloop van Saterdag se Interskole-kragmeting.
Interskole is groot – een van die grootste kragmetings tussen skole ter wêreld. Die gees in die dorp, onder die leerders en tussen die ondersteuners is groot; dit is ’n lekker gevoel.
Maar tog dink ek dit is belangrik dat al die volwassenes onthou dit is net kinders wat hul liefde vir sport uitleef. Ja, die druk om te wen, is groot – soos met enige wedstryd; dalk meer met Interskole. Daar is sekerlik werwers ook wat die wedstryde kyk en dit is ook druk op spelers wie se droom dit is om in die groen en goud uit te draf, om goed te speel.
En daardeur wil ek vir al die kritiek-lewers sê dit is kinders wat daar deelneem. Hulle maak foute – nes jy – en hulle leer elke dag – nes jy. Hoe kan volwassenes soveel druk op skoolkinders plaas en so neerhalend teenoor hulle optree? Niks hiervan is in goeie gees nie; dit is swak sportmanskap! Dit is ’n slegte eienskap wat jy jou eie kind leer.
Ek weet vir die deelnemende skole is jou gedrag en die respek wat jy toon vir ander, baie belangrik – so vir die ouers wat dit moet hoor, leer vir jouself ook goeie maniere aan en wees die voorbeeld vir jou kind.
Selfs op internasionale vlak word foute in wedstryde gemaak, hetsy deur die spelers of die skeidsregters, maar daar is steeds altyd ’n span wat volgens die telbord wen en ’n span wat verloor. Jy kan egter baie ander dinge tydens so ’n goeie wedstryd wen as net die wedstryd self. Jy leer geweldig baie; jy leer om met passie te speel; jy leer uithouvermoë en so baie meer. Jy kan soveel wen, al wys die telbord anders.
Die afgelope week het elke deelnemer, elke leerder wat sy skool gaan aanmoedig het, net hul beste gegee. Kom ons vier die leerders en dit wat hulle vanjaar uit Interskole geleer het. Kom ons as volwassenes wees die mense wat opbou en nie afbreek nie. Interskole-wedstryde moet ’n viering van ons kinders se talent op die veld wees – goeie sportmanskap; ’n leerskool.
So, laat ons as volwassenes dit nie deur kommentaar ondraaglik maak en ons kinders net skade aandoen nie.




