Die afgelope Saterdag se interskole laat om twee redes ’n wrang smaak in die mond.

Eerstens, omdat die wedstrydbeamptes blatante foute gemaak en die HJS op omstrede wyse laat wen het. Die twee eerste- rugbyspanne van die Paarlse skole het goed teenoor mekaar opgeweeg en by tye aantreklike rugby gespeel. Maar Gimnasium kan bitter ontevrede voel oor ’n drie vir Boishaai, wat nooit ’n drie moes gewees het nie.

Dit laat die vraag ontstaan hoe sulke onbekwame beamptes vir so ’n belangrike skolewedstryd aangestel word. HJS teen Gimnasium is seker een van die heel belangrikste rugbywedstryde op die skolekalender in Suid-Afrika en net die heel beste van die beste skeidsregters behoort vir so ’n kragmeting aangestel te word.

Tweedens, die laakbare gedrag van die toeskouers teen die einde van die wedstryd. Ondersteuners van Boishaai het soos ’n klomp wilde diere op die veld gestorm om hul span geluk te wens – en dit voordat die eindfluitjie behoorlik geblaas het. Sulke optrede is geheel en al onaanvaarbaar en dit is ’n klad op die skool se naam dat sy ondersteuners so optree. In so ’n stormloop kon iemand baie maklik ’n ernstige besering opgedoen het.

’n Mens hoop dat beter skarebeheer volgende keer toegepas sal word en ook dat die Oudskolierevereniging van die HJS (onder andere) en die skool self ’n beroep op ondersteuners sal doen om hul entoesiasme in toom te hou.


F. Carstens (’n oud-Boishaai-ouer en -oupa),

Onrusrivier

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article