Die Wes-Kaapse hooggeregshof het verlede week in die guns van ’n landelike werker beslis nadat hy Drakenstein-munisipaliteit hof toe geneem het.

Eric Lolo, wat saam met sy dogter en kleindogter op ’n plaas in Wellington gewoon het, is in 2015 ’n uitsettingsbevel gegee toe hy van die plaas waar hy gewerk het, ontslaan is.

Lolo het namens homself en ander wat in landelike gebiede woon by die hooggeregshof aansoek gedoen in die hoop om die munisipaliteit aanspreeklik te hou vir die voorsiening van noodbehuising.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het bevind dat die Drakenstein-munisipaliteit sy grondwetlike plig versuim het om noodbehuising aan mense te voorsien wat van plase afgesit word.

Die regter het ook bevind dat die munisipaliteit nie die “feitlike basis” verskaf het vir ’n eis dat hy nie geld het om sy verpligtinge na te kom nie. In die uitspraak word genoem dat die munisipaliteit in 2016 slegs R1 miljoen vir noodbehuising begroot het uit ’n totale begroting van meer as R2 miljard.

Met verwysing na ’n 2016-behuisingsverslag van die munisipaliteit het die regter gesê die aanvraag na behuising gedurende hierdie tyd het op ongeveer 19 500 gestaan en dat tussen 400 en 800 formele huise elke jaar deur die munisipaliteit beskikbaar gemaak is met geld van die provinsiale regering.

In die uitspraak word genoem dat die munisipaliteit se “wanprestasie” met betrekking tot noodbehuising gekenmerk word deur die versuim van die munisipaliteit om proaktiewe maatreëls daar te stel en dat die planne wat die munisipaliteit wel het, in die wiele gery word omdat die munisipaliteit dit nie self kan finansier nie.

Die munisipaliteit is aangesê om voorsiening vir noodbehuising te maak en terug te rapporteer aan die hof. Die regter het ook gesê die hof moet toesig hou oor die implementering van die bevel en dat die munisipaliteit verslae oor die vordering daarvan moet indien.

Volgens Jacqui Samson, uitvoerende direkteur: beplanning, ontwikkeling en menslike nedersettings by Drakenstein-munisipaliteit, het die munisipaliteit wel noodbehuising aan Lolo gegee, maar is dit van die hand gewys.

“Drakenstein-munisipaliteit oormerk 20% van alle nuwe (behuisings-) geleenthede vir landelike bewoners. Verder het mnr. Lolo gekwalifiseer vir behuisingsbystand ingevolge hierdie landelike kwota, maar ten spyte daarvan dat hy genooi is, het hy homself nooit op die munisipaliteit se databank laat registreer nie.

Volgens die munisipaliteit se respekvolle siening neem die uitspraak nie behoorlik kennis van die munisipaliteit se vertroue op die meganisme ingevolge die Wet op die Verdeling van Inkomste vir sy finansiering nie. Opvallend is ook die versuim deur die hof om behoorlike gewig te gee aan die gebrek aan beskik­bare grond, en die feit dat alternatiewe grond wat vir noodbehuisingsdoeleindes toegeken is, onregmatig beset is.”

Samson sê ook geen melding word in die uitspraak gemaak van die Schoongezicht-perseel wat nou ontwikkel is vir noodbehuisingsdoeleindes nie.

“Die munisipaliteit het nog altyd sy verantwoordelikheid om noodbehuising te verskaf, ernstig opgeneem. Die standaard van noodbehuising was histories ook bo die minimum riglyne wat deur die nasionale regering verskaf is. Die munisipaliteit het altyd noodverblyf verskaf wanneer nodig. Noodbehuising is ’n direkte versuim deur die nasionale regering om voldoende te beplan en sy grondwetlike mandaat om toegang tot behuising te verskaf ingevolge Artikel 26 van die Grondwet na te kom.

“Ongelukkig is plaaslike regering te dikwels die sondebok vir die mislukkings van ander regeringsfere.

“Laastens noem die uitspraak nie dat mnr. Lolo alternatiewe verblyf in Simondium aangebied is nie, insluitend hervestigingsbystand. Hy het aanvanklik geëis dat die aanbod van alternatiewe verblyf voor die landdroshof geplaas word. Later, ná verskeie terreininspeksies, het mnr. Lolo se prokureurs gekla oor dreineringsprobleme op die terrein, en ’n alternatiewe perseel is deur die munisipaliteit aangebied. Ná verdere terreininspeksies het mnr. Lolo se prokureurs aangedui dat hy sy familie wil neem om die terrein oor die volgende naweek te besigtig, waarna hy sal adviseer of die terrein aanvaarbaar is.

“Oor die daaropvolgende maand het die munisipaliteit herhaaldelik gepoog om vas te stel of mnr. Lolo die alternatiewe perseel sou aanvaar. Sowat ses weke later het mnr. Lolo weer gesê hy wil sy familie neem om na die terrein te gaan kyk. ’n Paar dae later het mnr. Lolo deur sy prokureurs – sonder om enige verduideliking te verskaf – die alternatiewe blyplek verwerp.”

Volgens Samson bestudeer die munisipaliteit in hierdie stadium die uitspraak en sal hulle oor die pad vorentoe besluit.. The Drakenstein Municipality has been dealt a blow by the Western Cape High Court after their ruling that the Drakenstein municipality failed in its constitutional duty to provide emergency housing for people evicted from farms.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article