“Ma, los die vrou uit!”, kom dit ewe betugtigend van my haarkapster. “Hoekom?” kom dit uitdagend van Ma.

Ma is buite my sig.

My gedagtes dwarrel weg terwyl ek aan Vrouemaand dink – die uiterstes waartoe vroue in die verlede, en vandag nog, gedwing word om in te oorleef of in te leef; die koste van vryheid onberekenbaar.

Dit te midde daarvan dat “hulp” blykbaar oral beskikbaar is.

Tog maak nie alle vroue van hierdie hulp gebruik nie. Vroue is vandag nog angstig oor vooroordeel, hul eie skuldgevoelens, blootstelling aan onsimpatieke mense, verwerping en om sonder ’n heenkome te wees.

Cleopatra se “toerol in ’n mat” om sodoende afgelewer te word by die instansies wat plafonne van glas het, waar ’n vista vir haar toekoms en ware noord duidelik sigbaar is, klink na ’n uitkoms; waar “off the grid” en “load shedding” sin het vir ’n hart wat aan die rante aan’t rafel is.

Ek sou eerder graag soos Danuta Danielsson in 1985 ’n hele paar mense met my handsak wou bykom – geen aanhitsing tot geweld nie, maar eerder ’n uiting van frustrasie en radeloosheid. ’n Bla-bla-bla-oomblik van Greta sal hier gepas wees ná die ondeurdagte, onkundige uitlatings van Cele oor verkragtings en gesinsgeweld.

“Ek gaan vir jou ’n boodskap stuur,” sê Ma hard oor die groot vertrek waar sy blykbaar aan die oorkant sit. Ek mis ’n paar asemteue van die skrik.

“En hoe, hóé wil Ma die boodskap by my kry?” ’n Stilte heers van oorkant af; klink of dit ’n strikvraag kan wees.

“Ek sal wel ’n plan maak – die ander familie is mos ook daar!”

Ma bly stil, duidelik besig om die uitdaging te verwerk. “Ek wil jou net help,” kom dit seergemaak van Ma.

Mother Teresa het gesê “If you judge people, you have no time to love them”. Ons kry dit vandag nog nie reg nie – nie ons as vroue onder mekaar of mans teenoor vroue nie. Tog is vroue van die vroegste tye af al vegters wat saam met hul mans in die British Isles geveg het. Fisiek was hulle dalk nie so sterk en geil soos hul mans nie, maar aan uithouvermoë en volharding het hulle geen tekort gehad nie.

Iets van Ester in die Bybel skuil ook in elke vrou. Ons is tot diens vir ons mans en kinders – hoe dan nou anders? Dit maak ons gelukkig, maar ’n verborge koningin skuil in elkeen van ons.

Die parfuumkoningin Estee Lauder het gesê: “I never dreamed about success – I worked for it.” Sy maak dat ons vandag steeds lekker ruik omdat sy bereid was om daarvoor te werk.

Mense fluister A.G. Visser beskryf die vrou die beste. “Wie ter wêreld verstaan ooit ’n vrou? En wie sal haar geheimenis weet? Haar verjaarsdae moet jy onthou, maar haar ouderdom moet jy vergeet!” ’n Wyse man . . .

Kleitablette, wat onlangs in Turkye gevind is en uit die Assiriese tyd dateer en 4 000 jaar oud is, bevat voorskrifte oor vroueregte. Lank reeds spartel vroue vir erkenning. Tog bly vroue die ruggraat van enige volk. Toe skole, universiteite en kerke ná die Tweede Wêreldoorlog gebou moes word, was dit vroue wat met die verkoop van koeksisters geld ingesamel het. Vandag nog word dit gedoen ter wille van kinders, bejaarde ouers wat na omgesien moet word, of ‘n liefdadigheidsorganisasies wat geld benodig – vandaar Orania se koeksistermonument, wat vandag steeds relevant is.

Toe Ma weer ’n opmerking maak wat ek nie kan hoor nie, kan ek dit nie meer uithou nie. “Waaroor gaan dit?” vra ek my haarkapster. Sy sug en antwoord. “Ek kry mos hierdie warmgloede. Nou sê my ma wanneer sy doodgaan en in die hemel aankom, gaan sy dadelik vir Eva soek en haar vra wat sy gedoen het toe sy warmgloede gekry het. My ma sê as daar een is wat behoort te weet van kruie en sulke goed, sal dit Eva wees. Sy het mos ’n tuin gehad met al die goed in.”

Eva self het dit ook maar nie maklik gehad nie. Sy moes twee keer geboorte skenk met net Adam as hulp. Eva word egter net onthou vir haar oortreding, dit wat sy verkeerd gedoen het, soos baie vroue vandag.

Vroue moet nie hulle laat weeg deur ’n skaal wat deur ’n bekende geyk is nie. Akkuraatheid mag dalk nie die oogmerk wees nie.

Die labirint van die vrou se hart is ingewikkeld. Slegs dié met fyn aanvoeling, deursettingsvermoë en ywer sal haar hart vind. Die vrou se hart is die moeite werd om te vind, want as jy dit eers gekry het, het jy ewig verblyfreg.

Het Nisargadatla Maharaj iets van ’n vrou begryp toe hy gesê het: “Wisdom is knowing I’m nothing / Love is knowing I’m everthing / And in between the two my life moves.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article