Ek as inwoner van Fraterstraat woon al van my kinderjare in De Zoete Inval en is gewoond aan die “druiwelorries” wat in parstyd na KWV se kelders toe aanry.
Maar die sementlorries wat nou hier op en af ry, veroorsaak ’n groot probleem aangesien hulle enige tyd soggens van 06:00 begin ry en dan hou hulle aan tot saans 22:00.
Dit is ’n groot steurnis vir ons as inwoners wat ook werk en nie ’n goeie nagrus kan inkry nie. My man werk skofte, dus is dit ’n groot probleem om in die dag te probeer slaap.
Op ’n Saterdag, wanneer ’n mens ’n bietjie wil laat lê, ry hulle ook van vroegoggend af, en dan druk hulle nog hul “hooters” om mekaar te groet. Ek sit ook met ’n asmabors, so maak ek glad nie ’n venster of deur aan die voorkant van my huis oop nie. As jou voertuig buite staan, kan jy sien hoe die sementstof op die motor lê.
Ons wil graag hê die straat moet elke dag skoongemaak word – dit kan nie net gevee word nie; hulle moet die pad met water skoonspuit.
’n Spoedgrens van 30 km / h moet vir die sementvragmotors ingestel word, want hulle ry deur daai gate wat reeds in die pad is en wat ons ook al by die munisipaliteit aangemeld het.
Nóg die munisipaliteit, nóg die wyksraadlid kan vir ons antwoorde gee oor ons probleme.
En aan die onderpunt van die straat, wat van Oude Chardonnay kom, wil ons graag ’n stopteken hê aangesien daai mense met ’n spoed om daai draai kom, en voor jy jou kon kry, is hulle op jou.
Dit is darem ook baie snaaks dat niemand vir Paarl Post antwoorde oor die saak het nie, maar toe ons inwoners een Vrydagmiddag net twee van ons voertuie in die pad trek om hieroor te betoog, het ’n verkeersbeampte skaars 15 minute later daar aangekom om te vra wat ons doen?
Net mooi niks word aan ons versoeke gedoen nie, en die vragmotors ry elke dag verby met die bestuurders wat vir ons lag, en daarvoor is ek nou gatvol.
As jy Portland se kantoor skakel, bly hul antwoord net dit is ’n nywerheidsgebied en klaar, maar dit is nie waaroor dit gaan nie; hulle mis die hele punt – dit gaan oor die geraas, spoed, toeters en die sementstof wat die hele pad vol lê en nie skoongemaak word nie.
Die grootste probleem is dat nie Drakenstein-munisipaliteit of Portland antwoorde kan gee oor wie verantwoordelik is om die pad elke dag skoon te maak nie? Niemand wil verantwoordelikheid daarvoor neem nie.
Moet ons dalk die hele straat blokkeer voordat die burgemeester self ons straat kom besoek om te kyk wat hier aangaan?




