Die hofsaak waarin Johan du Toit aangekla word van die moord op sy vrou, Chanel du Toit, is weer eens uitgestel.
Du Toit was veronderstel om verlede Vrydag (12 Augustus) in die Paarl-streekhof te verskyn nadat die saak voorheen menigmaal uitgestel is.
Du Toit word daarvan beskuldig dat hy in Julie 2010 sy vrou by hul huis op die Dieu Donné-wynlandgoed in Franschhoek verwurg en daarna op ’n jagtog in Laingsburg gegaan het.
Hy is kort ná haar dood weens die misdaad in hegtenis geneem.
Johan se ma het Chanel se bebloede en naakte liggaam by die paartjie se woning ontdek.
Alhoewel Johan se naam verlede week op die hofrol by die Paarl-streekhof was, is die hofsaak nou na die Kaapstad-streekhof oorgeplaas.
Adv. William Booth, wat Johan in die saak verteenwoordig, was saam met Johan Vrydagoggend by die Kaapstad-streekhof, het dié hofklerk by navraag bevestig.
Die saak is glo, volgens die hofklerk, daarheen verskuif omdat dit glo “gemakliker en nader [is] vir alle partye betrokke”.
Booth het ook verder die oorplasing van die saak bevestig.
“Die saak is tot dan uitgestel omdat die staat eers al die hofdokumente sal moet transkribeer.
“Hulle sal alles eers moet tik. Dít is hoekom ons tot dan sal moet wag.”
Die saak is dus verlede week tot 25 November uitgestel, en Booth voorspel dat die hofsaak met slotbetoë sal voortgaan.
“Hopelik is daar nog net twee hofverskynings. Ek verwag dat daar uitspraak op 25 November gelewer sal word,” voeg Booth by.
. The court case in which Johan du Toit is charged with the murder of his wife, Chanel du Toit, has been postponed once again.

