Yvonne Booysen tree binnekort af as bestuurder van Silwerkruin-tehuis vir bejaardes in Wellington. Foto: Heleen Rossouw


Aan die einde van Augustus neem die ACVV-Silwerkruin se tehuis vir bejaardes in Wellington afskeid van hul jare lange steunpilaar en leier, Yvonne Booysen.

Booysen is reeds sedert 2006 die bestuurder by Silwerkruin.

Sy vertel dat sy voorheen as bestuurder by Huis Anna Viljoen in Potchefstroom gewerk het. Haar man het ’n pos by Elsenburg-landbou­kollege aanvaar en dit het hulle na die mooie Wes-Kaap gebring.

“Ons het aanvanklik in Stellenbosch gewoon en het na Wellington verhuis nadat ek die aanstelling by Silwerkruin gekry het.”

Booysen vertel dat haar grootste uitdagings as bestuurder is om toe te sien dat inwoners goeie sorg ontvang en om inwoners, hul familie en personeel sover moontlik gelukkig en tevrede te hou.

“Silwerkruin het deel van my leefwêreld geword. Ek het my werk en die ouer mense geniet. My kontak met personeel en families was spesiaal. Ek sal dit beslis mis.

“Die gemeenskap en hul ondersteuning aan Silwerkruin en die inwoners is so spesiaal en die beste waarvoor ’n mens kan hoop. Ek is dankbaar om in ’n beroep te kon staan wat vir my sinvol was en betekenis aan my lewe gegee het. My lewe is verryk deur my kontak met hierdie mense en ek verlaat Silwerkruin met mooi herinneringe.”

Booysen het ook haar dank uitgespreek aan die inwoners van Silwerkruin en die feit dat sy deel van hul leefwêreld kon wees.

Sy sê die inwoners was elke dag haar inspirasie en rolmodelle op vele terreine.

“Aan die gemeenskap van Wellington ’n groot woord van dank vir u onbaatsugtige ondersteuning op ’n deurlopende basis aan Silwerkruin. Ons kan nie wens vir beter nie. U betrokkenheid word opreg waardeer.”

Volgens Booysen beplan sy om ná haar aftrede meer tyd saam met haar drie dogters en hul gesinne deur te bring en om “spesiale tye met my ses kleinkinders, waarvan vier in die buiteland woon, te ervaar.”

Die nuwe bestuurder van Silwerkruin, Lynette Peterson, sal amptelik op 1 September by die tehuis begin.

“Silwerkruin is ’n besondere fasiliteit met ’n bekwame beheerraad, spesiale inwoners en personeel. Ek glo dat sy (Peterson) net so gelukkig hier sal wees soos wat ek was,” het Booysen gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article