Verbygangers was Vrydagoggend geskok toe hulle die lewelose liggaam van ’n man voor ’n plaaslike winkel sien lê.
Paarl Post is dadelik hiervan in kennis gestel en by navraag aan die plaaslike polisie is uitgevind dat die man, wie se identiteit nie bekend is nie, gesterf het nog voordat hy vir mediese hulp by ’n hospitaal kon uitkom.
Paarl-polisiebeamptes is na die toneel ontbied, maar kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder, sê geen klagte is by hulle aangemeld nie.
“Ons het geen rekord van die voorval op die polisiekantoor se stelsels nie. Ek kan wel bevestig dat die man se familie tydens sy afsterwe in die nabyheid was, aangesien hy juis op pad hospitaal toe was.”
Sy sê die man was glo siek en het ’n afspraak by ’n nabygeleë hospitaal gehad om ’n operasie te ondergaan.
“Ongelukkig is hy dood voordat hy die hospitaal kon bereik om dié mediese prosedure te ondergaan.”
Die polisie is Maandag weer ontbied na ’n toneel waar die liggaam van ’n man deur verbygangers in ’n veld gevind is.
“Die Paarl-polisie ondersoek tans die dood van ’n 60-jarige man, wie se liggaam deur verbygangers in die oop veld naby die Dal Josafat-treinstasie om 06:45 die oggend gevind is.”
Die oorsaak van die man se dood is onbekend.
Volgens Du Plessis word geen misdaad vermoed nie.





