Inwoners van Gouda en Hermon is diep ongelukkig omdat hulle voel die Drakenstein-munisipaliteit skeep hulle af.

Hul ontevredenheid sluit in dat ’n rommelhoop glo oop en bloot lê – nie te ver van die plaaslike munisipale gebou en die stortingsterrein in Gouda nie.

Die rommelhoop raak blykbaar by die dag groter.

Ontevredenheid heers ook op dié dorp weens die tekort aan openbare toilette. Wanneer die nood druk terwyl inwoners inkopies doen, is die enigste opsie om agter die plaaslike slaghuis se muur te gaan sit of staan.

Twee munisipale amptenare het na bewering maande gelede per e-pos belowe dat ’n mobiele toilet voorsien sal word, maar die belofte is nou nog nie uitgevoer nie.

In Hermon se hoofstraat kom slaggate motoriste duur te staan. Drie sekelmaan-slaggate beskadig motors se bande erg wanneer hulle in dié straat moet ry.

Inwoners van Gouda en Hermon, wat in Wyk 31 van Drakenstein val, sê hulle het op meer as een geleentheid hul raadslid, Catherine Jacobs, probeer kontak, maar sy is glo baie besig en “altyd in ’n vergadering”.

Nóg ’n groot bekommernis is dat inwoners van Hermon sukkel om by hul naaste kliniek in Soetendal, 35 kilometer verder as Wellington, uit te kom.

Mense wat rolstoele gebruik, moet honderde rande betaal net om mediese sorg te kry.

Een inwoner wat al vir jare aan lae bloeddruk ly, moet ryloop as sy na ’n kliniek toe moet gaan.

Gerald Esau, Drakenstein se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, sê die munisipaliteit se vaste-afvalbestuur-afdeling maak die afvalhouers by die Gouda-aflaaiterrein op Woensdae en Saterdae skoon. Hulle verskaf ook Donderdae deur-tot-deur- huishoudelike vullisverwyderingsdienste aan formele huishoudings.

“Benewens bogenoemde lewer ons geel sakke van deur-tot-deur op Woensdae by informele huishoudings af en haal dan die gevulde sakke Vrydae af.

“Tans ervaar ons groot volumes kommersiële afval, wat met groot perd-en-sleepwa-vragmotors by ons fasiliteite afgelewer word, wat daartoe lei dat die oorslaankapasiteit vinnig gevul word.

Ons is besig met ’n ondersoek na die bron van hierdie groot kommersiële voertuie wat veronderstel is om hul afval by die Wellington-stortingsterrein te gaan aflaai.”

– Samuel Walters

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article