Vrouemaand word weer met die jaarlikse Winnie Rust-pryse gevier, en benoemings hiervoor is tot 10 September oop.
Die staatmakervroue van Wellington, wat deur die jare bewys het hulle styg bo hul omstandighede uit, was die inspirasie vir wyle Rust, wat ’n bekende skrywer was, se boeke, soos Martha, Margie van die Seminarie, asook Trek en Katryn.
Rust het haar oor die veronregtes en minderbevoorregtes ontferm en was veral besorg oor jong vroue in die gemeenskap.
Rust is in 2016 vermoor en het ’n groot leemte in die Wellingtonse gemeenskap agtergelaat.
Die toekenning is dus tot haar eer geskep, en vereer vroue in die Boland wat ten spyte van hul eie teëspoed, ’n verskil in hul omgewing gemaak het.
Vereistes vir die benoemings:. Die prys moet ’n viering wees van die nalatenskap van die stories en boeke van Winnie Rust – die vroue wat ’n dapper stryd voer om moeilike omstandighede te oorkom.. Dit moet ’n randfiguur wees wat ’n “heldin” in haar eie gemeenskap is en bo omstandighede uitstyg.. ’n Vrou wat swaarkry en uitdagings in iets goeds kan omskakel.. Dit moet ’n vrou wees wat iets regkry en geleenthede raaksien en benut en boonop iets teruggee aan die gemeenskap.
Alle skriftelike benoemings moet by die Wellington-museum ingedien of per e-pos aan die Wellington-museum gestuur word by welmus@telkomsa.net.. Die sluitingsdatum vir benoemings is 10 September. Bel die voorsitter van die ATKV Wellington-gesinstak, Tharina Schweidler, by 082 779 4001, vir nog inligting.



