Ná twee jaar van die Covid-19-pandemie het die 2022-rugbyligaseisoen Saterdag met die Paarl Rangers as die eerste liga-kampioen geëindig.
Rangers het die eerstespanliga-titel gevier en gewys waarom hy die ligakampioen is deur Perel United met ’n reusagtige 80-3 te klop. Laer Paarl het met ’n naelskraapse oorwinning van 28-27 die tweede plek ingeneem, met Standards en Gardens wat onderskeidelik in die vierde en vyfde plek geëindig het.
Die tweedespanliga-kompetisie is gewen deur Young Standards met strawwe mededinging van Young Gardens, wat met drie punte minder tweede was. Albei spanne moes wen om die tweedespanliga-titel te beklink.
Die Paarl-streek-ligakompetisie was ’n groot sukses met min of geen ongedissiplineerde sake wat by die WPRFU aangemeld is en die toeskouers kan slegs geprys word vir die wyse waarop hulle die oorwinnings gevier en die houe op die ken gevat het.
Saterdag begin die Paarlstreek se uitklop-kompetisie, wat interessante uitslae kan oplewer aangesien geen span op hierdie tydstip as die gunsteling beskou word nie.
Vanjaar word ook ’n uitklopkompetisie vir tweede spanne aangebied. Die verloorders van die eerste ronde speel in die uitklop-plaat-kompetisie en groot skares word vir die komende maand verwag.
Die spelrooster vir die tweede spanne is:
Young Standards vs Violets
Young Gardens vs Perel United
Laer Paarl vs Riverstones
Paarl Rangers vs Simondium
Spelrooster vir 1ste spanne:
Paarl Rangers vs Violets
Lower Paarl vs Perel United
Young Standards vs Riverstones
Young Gardens vs Simondium.
Alle wedstryde word op die Daljosafat-stadium gespeel en die tweedespanwedstryde skop om 14:00 af om voorsiening te maak vir ekstra tyd indien wedstryde ná speeltyd gelykop eindig.





