2022 sal bekend staan as die ergste jaar nog vir geskeduleerde kragonderbrekings deur die monopolie-energienuts­maatskappy, Eskom. Meer as 100 dae beurtkrag het die ekonomie al gekniehalter, en in alle waarskynlikheid gaan hierdie trae stand van sake nog lank voortduur.

Beurtkrag het verlede week weer eens sy lelike kloue ingeslaan en Sondagoggend het die land wakker geword met die skoknuus: die eens ondenkbare het die tweede keer vanjaar gebeur – Eskom het fase 6-beurtkrag aangekondig.

Groot organisasies en korporasies voel reeds die knyp in hul begroting weens die gebruik van kragopwekkers gedurende beurtkrag.

Dit laat ’n mens wonder hoe kleiner sakeondernemings die mas gedurende dié deurlopende duisternis opkom.

Paarl Post het by sommige sakeondernemings aangeklop om te hoor hoe hulle in dié moeilike omstandighede oorleef:. Polarama Cash & Carry is ’n groothandelaar in kruideniersware in Klippiesdal, Paarl.

“Ons deure staan danksy genade al die afgelope 33 jaar oop, maar ons hou net-net kop bo water,” sê Majiet Gaffoor, een van die mede-eienaars van Polarama.

“Beurtkrag is ’n groot kopseer vir almal, maar nog meer vir sakeondernemings, omdat ons ’n diens moet lewer. Die teenvoeter bly die noodsaaklikheid van ’n kragopwekker wat die deure moet oophou, maar die brandstofprys, inflasie en rentekoers is die ergste nog!”

Gaffoor vertel van bykomende uitgawes, buiten peperduur kragopwekking. “Ons toerusting bly gedurig in die slag. Rekenaars, skerms, ons rekenaarbediener (server) en ander toerusting het al opgepak. Dan is daar nog verdere uitgawes om die herstelwerk te dek. Bykomende kommer is om eise by die versekeraar in te dien, en met elke eis wat uitbetaal word, word die premies ook al hoe hoër.”

Nie net is dit ’n gesukkel as gevolg van die ekonomie wat swaar trek nie, maar ook weens werkloosheid en die publiek se al meer beperkte besteebare inkomste.

“Sommige broodnodige kosprodukte word al hoe meer as luukshede beskou, omdat mense sulke streng besparings moet toepas. Talle ondernemings moet later personeel verminder, maar ons is gelukkig nog nie daar nie. Ons is baie besorg oor ons personeel, maar ’n mens weet nooit of dit mettertyd daar­toe sal lei nie, en dan moet moei­like besluite geneem word.”. Die plaaslike videowinkel, Vee’s Video, is nóg ’n kleinonderneming wat swaartrek as gevolg van beurtkrag wat vir weke aaneen ingestel word. Volgens Elize Swanepoel, wat by Vee’s Video werk, kan hulle nie oop bly wanneer beurtkrag toegepas word nie. Toe fase-6-beurtkrag die afgelope Sondag ingestel is, kon die winkel sy deure vir slegs vier ure oophou.

Videowinkels soos Vee’s Video trek reeds swaar omdat mense nou flieks gratis kan aflaai. Die pandemie het dié winkel, asook soortgelyke ondernemings, ook ’n verdere knak gegee.

“Dit is regtig skrikwekkend wat die beurtkrag aan ons en baie ander kleinondernemings doen. Dit is nie almal wat ’n kragopwekker kan bekostig nie. Die finansiële impak as gevolg van beurtkrag is baie negatief.

“Ons het in die verlede oop gebly, maar dan kom mense in met vals identifikasie en sê hulle is op die rekenaarstelsel, dan is dit nie so nie. Dié mense neem dan tot ses flieks uit, en jy kry dit nooit terug nie of jy kry dit ná ses maande eers weer.”

Swanepoel bak ook koek by haar huis vir Woeker en Woel as ’n ekstra inkomste.

“Met die gebak wat ek vir Woeker en Woel doen, moet ek maar begin wanneer die krag aan is as ek enigsins verkope wil hê.”. Vir kleiner wynprodusente is dit ’n nagmerrie aan die broei, met die parsseisoen wat slegs enkele maande weg is.

Mary-Lou Nash van Black Pearl Vineyards aan die voet van die Paarlberg sê sy sidder om te dink hoe sy haar onderneming met sulke vernietigende kragbeurte gaan bedryf.

“Groter wynmaatskappye het die afgelope jare honderdduisende rande aan alternatiewe kragopwekking bestee, soos sonpaneelstelsels, maar vir die kleiner produsent is die uitgawe hieraan net nie moontlik nie, veral nie in die nadraai van die Covid-19-pandemie nie.

“Ons gaan op ons knieë wees as hierdie situasie in Januarie sou voortduur. Verkoeling is ’n prioriteit in die vervaardiging van wyn, net soos die basiese toerusting vir pars.

“Tans bottel ek, en wat gewoonlik ’n drie uur lange taak moet wees, eindig in ’n dag lange taak – soms langer.”. Dirk Breytenbach, voorsitter van die Drakenstein-sakekamer, beaam die donker vooruitsigte, wat ook ’n negatiewe invloed op die verbruiker gaan hê.

“Die huidige ‘pandemie’ van gebrek aan voldoende kragvoorsiening in SA het nou ’n kantelpunt bereik en verskonings deur Eskom is net nie meer aanvaarbaar nie. Die situasie is uiters frustrerend vir die gasvryheidsbedryf en veral kleinsake wat nie oor die nodige geld en infrastruktuur beskik om alternatiewe in plek te stel om die gereelde en ontydige tekorte te bowe te kom nie. Dit skaad produktiwiteit en voorspel niks goeds vir die ekonomiese welsyn van gemeenskappe en SA as geheel nie.

“ ’n Politieke oplossing om Eskom reg te ruk is ook nie meer moontlik in die huidige chaotiese politieke klimaat nie en die enigste werkbare alter­natief blyk nou om private hernubare bronne soos sonkrag onverwyld in plek te stel. Plaas­lik word reeds moeite gedoen om besighede te speen van afhank­likheid van die regering en instansies onder staatsbeheer, wat uiters swak bestuur word. Groot navolgens­waardige sonkragprojekte is reeds plaaslik aangepak deur Paarl Mall, Rembrandt Mall en verskeie prominente fabrieke.

“Die tyd het aangebreek dat burgerlike organisasies en sakeleiers verantwoordelikheid neem vir hul eie ekonomiese welsyn.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article