Die Subaru-motor het die twee beseerde insittendes, sowel as die oorlede ouma Elthea Kremmer (80) bevat. Foto: Verskaf


’n Gru-botsing reg van voor op die R312 tussen Durbanville en Paarl het Saterdagaand die lewens van twee vroue geëis en nog twee mense ernstig beseer gelaat. 

Een oorledene is ’n 26-jarige oud-La Rochelle-leerder, Kassandra Demmer, en die ander ’n 80-jarige ouma, Elthea Kremmer, wat saam met haar dogter, skoonseun en kleinseun in die voertuig gery het.

Die 26-jarige Kassandra Demmer is in die ongeluk dood.

Volgens ’n nooddienswerker wat op die toneel aan diens was, was die twee vroue met hul aankoms reeds dood.

Die botsing het omstreeks 19:50 gebeur.“Die toneel het op ’n botsing reg van voor tussen twee voertuie gedui. Die man wat agter die stuur van die Subaru was, sowel as die vroulike bestuurder van die Ford Figo, wat op toneel dood verklaar is, was in hul motors vasgekeer. Hulle moes uit die wrakke gesny word.”

Volgens Die Burger was die twee beseerdes Kremer se dogter Maryke Marx (50) en skoonseun, Petrus (54).

Die nooddienswerker het aan Paarl Post bevestig Maryke en Petrus is met ernstige beserings na die MediClinic Cape Gate vervoer.Die egpaar se 17-jarige seun, Jandré, is ongedeerd. Hulle was op pad na Ceres toe die ongeluk gebeur het.

Kassandra was onderweg terug na Durbanville vanaf Nine Oaks-gasteplaas in Agter-Paarl, waar sy ’n verlowingspartytjie van ’n skoolmaat bygewoon het, toe die noodlot tref.

Sy was ’n topstudent wat regte studeer het en is deur vriende as ’n lieflike mens beskryf.Hoër Meisieskool La Rochelle het ook op sy Facebook sy medelye aan haar familie betuig.

Demmer se pa het van die buiteland na die Paarl gereis. Die provinsiale polisie­woord­voerder AO Joseph Swartbooi het bevestig Klapmuts se polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article