Die oggend nadat die vierjarige Mia Botha se vermoorde liggaampie ontdek is, lui die opskrif van ’n onverwante rubriek in ’n dagblad: “Het Suid-Afrika sy morele kompas verloor?”
Hierdie woorde kan nie meer waar wees as ’n mens van nader na nog ’n moord op ’n weerlose kind kyk nie.
Mia Botha het 16:00, helderoordag, soos ’n groot speld voor haar ouer-woning in Paarl-Oos verdwyn.
Maandagmiddag is talle se ergste vermoede bewaarheid toe die vermoorde kind se lyk, wat net so in ’n oop stuk veld langs ’n skool gestort is, gekry is.
Die meeste verantwoordelike ouers sal daarvan getuig dat ’n ouer nie hul oë van so ’n jong kind sal afhou nie, tensy hulle vas aan die slaap in hul bed is.
Waar was Mia se volwasse toesig daardie middag?
Wie, en watter soort mens, het haar weggeraap, vermoor en toe soos ’n stuk vullis in die veld gestort?
Nog skokkende scenario’s het ook met die ontdekking van die jong Mia se liggaam ontvou.
Skaars was die nuus van haar dood bekend, toe omstanders van naby video’s van die lyk geneem en dit op sosiale media die wêreld ingestuur het – skokkend, om die minste te sê.
So, ja – Suid-Afrika het oënskynlik sy morele kompas verloor!




