RSG se Martelize Brink is ewe gemaklik voor die braaivuur as agter die mikrofoon.


Bekende radio-omroeper en geliefde Paarliet, Martelize Brink het so pas haar jongste boek bekendgestel. En die keer wys die blondine haar slag om die braaivuur.

In Oor die kole wys Martelize Brink dat braai soveel meer as net steaks en boerewors is. Dié boek bevat liplekker resepte wat wissel van die perfekte tjoppie tot potbrode en slaai – en ja, jy kan slaaibraai!

Martelize deel gunstelinge waarmee sy grootgeword het en verskaf ’n magdom uithaler-resepte met ’n kinkel wat jou smaakkliere sal prikkel. Sy gee raad oor potjies, roosters en basiese braaitegnieke. Daar is onder meer resepte vir gerookte ribbetjie, eend met sjerrieglaseersel, gevulde lamsrol, platbrood in die ketelbraai en haar pa, potjiekos-koning Matie Brink, se gewildste afvalpot. Natuurlik is daar ook iets vir die soettand – alles oor die vuur!

Martelize vertel dat sy en haar lewensmaat, Marius van Tonder, ten minste vier keer ’n week om die vuur kosmaak.

Maar Martelize het immers groot geword op die potte, met pa Matie wat gedurig oor die kole gebak en gebrou het. Sy sê juis dat sy baie graag vir haar pa haar slag om die braaivuur vandag sou wou wys.

Hier is ’n voorsmakie van die talle smullekker resepte van Martelize se braaikamer:LAMTAGINE

’n Lamtagine word natuurlik tradisioneel in ’n tagine gaargemaak. In dié geval is die swartpot ’n waardige plaasvervanger en ons sit dit graag voor vir gaste.

Jy benodig:

2 t elk fyn komyn, gemmer, borrie, swartpeper en paprika

1 t elk fyn kaneel en koljander

1 t cayennepeper of rissiepoeier (opsioneel)

1 r komynsade

1,5 kg lamsvleis in 3 cm-blokke gesny

2 uie, opgesny

1 t sout

1 k tamatiesap (of 1e tamatiepasta met 1k aftreksel gemeng)

2 k lam- of hoenderaftreksel

2 blikke (400 g elk) gekapte tamaties

2 wortels, opgesny

1 blik kekerertjies (chickpeas)

1 groot e heuning

Handvol rosyne*

sap van een lemoen

vars koljander blare vir bo-oor sprinkel

’n handvol geroosterde amandelskyfsels vir bo-oor sprinkel (opsioneel)

So maak jy:

1. Meng al die droë speserye saam, Sprinkel die helfte van die speserymengsel oor die vleis en plaas in die yskas vir ’n paar uur indien jy tyd het.

2. Braai die uie stadig in olie in ’n plat 25 cm-swartpot oor matige hitte tot sag. Voeg die knoffel en gemmer by. Voeg die res van die speserymengsel by en braai met die uie tot geurig.

3. Krap die uiemengsel eenkant en braai die vleis in die pot. Let wel, net ’n paar minute, pasop vir aanbrand. Sprinkel die sout oor die vleis terwyl dit braai.

4. Voeg die tamatiesap, aftreksel en gekapte tamaties by en maak seker jy krap die bodem van die pot met die lepel sodat al die karamellisering kan loskom. Prut vir 1 ½ uur.

5. Voeg die wortels, kekerertjies, heuning, rosyne en lemoensap by en prut vir 30 minute of tot vleis van been begin afkom. Hou water byderhand indien die pot droogkook. Roer dan en wan om aanbrand te voorkom. Die soet in die gereg kan dit teen die einde van die pruttery veroorsaak.

6. Sprinkel die koljander en amandelsyfsels bo-oor. Bedien met koeskoes.• Martelize sê: Die gereg vra eintlik vir droëperskes en dadels, wat ek nie gehad het nie. Ek het dus ’n handvol rosyne en die sap van ’n lemoen bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article