Werk om die nuwe Gouda-kliniek teen vroeg aanstaande jaar vir pasiënte gereed te hê, is volstoom aan die gang.

Credit: SYSTEM

Inwoners van Gouda kan daarna uitsien om teen die einde van Januarie 2023 hul gesondheidsorg­dienste in ’n nuwe kliniek te ontvang.

Die Wes-Kaapse regering is op koers om die bou van ’n nuwe kliniek van R17,9 miljoen te voltooi om die bestaande Gouda-kliniek in die Kaapse Wynland-distrik teen Januarie 2023 te vervang.

Die nuwe fasiliteit sal die huidige semi-losstaande huis, wat in ’n kliniek omgeskep is, vervang. Die beperkte ruimte van die huidige perseel is nie geskik vir uitbreiding nie en die departement het besluit om ’n nuwe kliniek te bou waar omvattende gesondheidsorgdienste voorsien sal word.

Die nuwe fasiliteit sal met ’n nuwe ingang en wagkamer met ’n ontvangsvertrek, ’n rekordskamer en personeel-fasiliteite pronk. Die kliniese dienste kry ’n ruimte vir akute behandeling, spreekkamers vir die verskillende dienste, waaronder ’n rehabilitasie-/terapie-eenheid, ’n apteek en ruimte vir eksterne diens.

“Hierdie projek sal die gemeenskap van Gouda van ’n moderne mediese fasiliteit voorsien. Die opgradering van die fasiliteit sal omvattende gesondheidsdienste in ’n ruimer omgewing bied. Die kliniek het, net soos ander Wes-Kaapse regeringsprojekte, ook talle werksgeleenthede vir hierdie gemeenskap vir die boutydperk gebied. Ek sien baie uit na die voltooiing,” het Tertuis Simmers, provinsiale minister van infrastruktuur, gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article