Wellington se strate vloei deesdae dikwels vol riool weens verstoppings wat deur vreemde voorwerpe in die pype veroorsaak word.


Gebarste pype, gietende oorstromings en rioolverstoppings in Wellington word gereeld by die Drakenstein-munisipaliteit aangemeld.

Die nuutste gevalle, volgens die munisipaliteit, sluit dié van rioolverstoppings in Kerk- en Hoofstraat in, maar talle onverwante voorvalle is ook al in Pentzstraat op die Wellington- aksiegroep (WAG) se Facebook-blad aangemeld.

Die munisipaliteit se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, Marius Wüst, sê altesaam 12 rioolverstoppings is verlede Dinsdag (18 Oktober) in die Wellington-omgewing aangemeld. Al dié verstoppings is sedertdien verwyder.

“Dié spesifieke rioolverstopping is aangemeld en die Drakenstein-munisipaliteit se instandhoudingspan is na die verstopping in die munisipale hoof-rioolpyplyn uitgestuur. Die verstopping is dieselfde middag nog verwyder.”

Wüst sê die verwydering is binne twee ure afgehandel, insluitende die skoonspuit van die gebied rondom die verstopping.

Hy bevestig die oorsaak van die verstopping wat tot die oorstromings gelei het, was lappe en ander voorwerpe, wat nie veronderstel is om in die rioolstelsel te beland nie.

“Die vorige verstopping het in Mei vanjaar voorgekom, en dié verstopping is ook deur lappe en vreemde voorwerpe veroorsaak.”

Paarl Post het in ’n navraag aan die munisipaliteit versoek of die munisipaliteit begroot het om Wellington se rioolpypnetwerk of stormwaterpype te vervang.

Volgens Wüst is die rioolpype en mangate nog in ’n goeie toestand.

“Geen opgradering word vir die nabye toekoms beplan nie. Die munisipaliteit beplan wel die opgradering en vervanging van verskeie pypstelsels in die Van Wyksvlei-gebied in Wellington.”

Hy sê rioolverstoppings is ’n daaglikse verskynsel wat die munisipaliteit so gou moontlik verwyder.

“As voorkomende maatreël skep ons gereeld rioolvangputte en spuit hoofrioollyne, volgens ’n onderhoudsplan, skoon. Tenders is deurgaans beskikbaar om die voorkomende onderhoudswerk vir die hele Drakenstein-omgewing, wat Wellington insluit, te hanteer.”

Wüst verseker inwoners die munisipaliteit besit sy eie instandhoudingspanne en toepaslike toerusting om verstoppings en instandhoudingswerk te hanteer.

“Die munisipaliteit hanteer self rioolverstoppings en word deur verskeie diensverskaffers bygestaan. Reaktiewe instandhoudingswerk, soos verstoppings, word op dieselfde dag as wat dit aangemeld is, hanteer en opgelos.

“Beplande instandhoudingswerk, soos die skoonmaak van rioolstelsels en vangputte, word volgens ’n roetine-plan hanteer.”

Ter afsluiting, sê Wüst, word probleem-pypstelsels ondersoek en indien nodig met nuwe stelsels vervang. Waar ’n pypstelsel te klein blyk te wees, word dit volgens die munisipaliteit se kapitale program vergroot.

. Multiple pipe bursts and sewerage overflows are reported in Wellington on a regular basis. Only last Tuesday numerous incidents of sewerage overflowing were reported in Church and Main Street. The Drakenstein municipality says it repairs such incidents on the same day and maintains pipelines routinely. No major upgrades to pipelines are planned for Wellington, except for repairs and replacements to pipelines in Van Wyksvlei.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article