Vir baie is dit ’n uitdaging om net een keer die Leeukop-staproete in Kaapstad aan te durf, maar Chris Vermeulen, ’n fiksheidsinstrukteur van die Paarl, daag homself vir ’n tweede keer uit om te kyk hoeveel keer hy in 12 ure teen dié berg op en af kan gaan in niks meer as net sy Love your Nuts-swembroek nie.
In November 2020 het Vermeulen nege keer teen Leeukop op en af geklim of gehardloop nadat hy besluit het om sy steun aan die Love your Nuts-organisasie se bewusmakingsveldtog te gee.
Vermeulen het in 2020 vir 12 opeenvolgende ure (van 06:00 tot 18:00) die berg op en af aangedurf in sy Love your Nuts-swembroek.
Dié uitdaging het Vermeulen nie net aangepak om bewusmaking van testikulêre kanker te kweek nie, maar ook om geld in te samel vir die Love your Nuts-organisasie.
Twee jaar later het die Love your Nuts-organisasie weer vir Vermeulen genader om te hoor of hy weer betrokke wil raak by hul veldtog.
Vermeulen se plan is nou om te probeer om op sy persoonlike beste te verbeter.
“Ek het besluit om die 26 of die 27ste November, afhangend van die weer, myself weer uit te daag en weer Leeukop aan te pak. Aangesien dit Movember is, is dit die perfekte maand,” sê Vermeulen.
So hoekom hierdie 12 uur-uitdaging? “Dit is redelik eenvoudig. Mans hou nie altyd daarvan om oor sekere dinge te praat nie en deur myself uit te daag om iets ballsy soos hierdie te doen, kan ek mense bewus maak van belangrike goed, soos opvoeding oor testikulêre kanker. Daarom het ek besluit om my God-gegewe vermoëns te gebruik om bewusmaking te kweek en my medemense te herinner om hulself te ondersoek. Ek wil ook ’n bedrag van R10 000 insamel vir die Love your Nuts-organisasie.”
Vermeulen, wat tans werk as ’n persoonlike fiksheidsinstrukteur by Virgin Active in die Paarl, meen nie net is fiksheid belangrik nie, maar dat dit ook belangrik is om seker te maak dat jou liggaam gesond is in alle opsigte.
“Ek sal graag my mede-Paarliete wil uitnooi om saam met my die uitdaging te kom aandurf, al is dit net vir een of twee keer en ook die Love your Nuts-organisasie te ondersteun.”
Diegene wat saam met Vermeulen die uitdaging wil aanpak kan gerus sy Instagram-blad by @fit_chris_sa besoek, waar hy al die inligting oor die uitdaging sal deel. Mense wat graag ’n donasie wil maak ten bate van die veldtog kan dit doen by www.givengain.com/ap/chrisloveyournuts.
Vir meer oor die Love your Nuts-organisasie, besoek loveyournuts.org.





