’n Ouma van Paarl-Oos voel die polisie hou hulle in die donker wat betref die ondersoek van ’n verkragtingsaak waarin haar negejarige kleindogter ’n slagoffer is.

Die 49-jarige vrou, wie se identiteit weerhou word om haar kleinkind te beskerm, sê die moord op die vierjarige Tamia Botha einde September vanjaar het haar kleindogter se trauma opnuut oopgekrap.

Tamia is op 25 September as vermis aangemeld nadat sy voor haar huis in Daphnestraat gespeel het. Haar liggaam is die volgende dag deur inwoners ontdek – op die perseel van Nederburg Primêr, wat nie ver is van waar sy gewoon het nie.

Die kleuter het duidelike wurgmerke aan haar nek gehad. Niemand is tot dusver weens dié moord in hegtenis geneem nie.

Die vrou sê haar kleindogter, wat ten tyde van die voorval net sewe jaar oud was, is vroeg verlede jaar in Chicago verkrag en sy het haar en nog ’n kleinkind in haar sorg geneem. Sy voel die polisie hou haar nie behoorlik ingelig oor die ondersoek nie.

“Ná die voorval het die kinders haar by die skool gespot, en dit was verder traumaties vir haar. Ek het haar en haar jonger suster toe gaan haal en hulle woon nou by my.

“Ek het onlangs die kaptein hieroor gaan spreek en is ingelig dat ’n verdagte wel in aanhouding is, maar hy sal glo eers volgende jaar in die hof verskyn.

“Verder was hier nog niemand weer by my om my ’n brief te gee van wanneer ons in die hof moet wees nie, en niemand het laat weet wanneer my kleinkind weer vir berading kan gaan nie.”

Volgens die ouma vaar haar kleindogter baie beter, maar weens die wreedaardige dood van Tamia was die meisie weer baie huilerig en het sy nagmerries begin kry.

Die ouma sê sy is baie emosioneel omdat sy en haar dogter, die slagoffer se ma, self ook slagoffers van verkragting is.

“Ek vra altyd hoekom dan die ouma, kind en kleinkind. Dit is nie lekker nie. Dit is iets wat jy nie oorkom nie. Jy sê jy is oukei, maar jy is nie oukei nie – veral nie wanneer jy die verkragter ná jare weer raakloop nie. Dan experience jy weer daai trauma van voor af.

“Ek voel dit is nie reg nie. Sulke mense hoort nie in die gemeenskap nie, want verkragters is ’n gevaar vir almal se kinders. Kyk wat het met Tamia gebeur. My trane loop soos ek hier staan. Verkragters gaan tronk toe en die kind is vir ewig getraumatiseer. En dan loop die verdagtes rond asof niks gebeur het nie.”

Navrae is aan die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe in die Paarl gestuur om te hoor hoe die ondersoek vorder. Geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie.. A grandmother from Paarl East feels the police are keeping them in the dark regarding the investigation of a rape case in which her 9-year-old granddaughter is a victim.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article