’n Blink toekoms lê vir Jannes Emmerich (12) voor op die balletverhoog.


Die jong balletdanser Jannes Emmerich laat hom nie voorskryf deur die stereotiepes van die samelewing nie. Sy hart en siel bars met trots en passie vir ballet.

Dié 12-jarige se ma, Santie Emmerich, vertel dat hy net vier jaar oud was toe hy vir haar sê dat hy aan ballet wil deelneem. Die gesin het toe nog in George gewoon en ’n afrigter daar was bereid om vir klein Jannes af te rig.

Nadat hy aanvaar is by die dansskool is Jannes en Santie na die plaaslike balletwinkel om sy uitrusting te koop. Omdat dit so ongewoon was vir seuntjies om deel te neem aan ballet, het die winkel net pienk balletskoene in voorraad gehad – alhoewel die Emmerichs op soek was na swart skoene.

“Omdat daar toe nie die skoene was wat ons gesoek het nie, het Jannes aangedring dat hy gemaklik is met die pienk skoene en hy het in pienk skoene gedans. Die winkel het die jare daarna op versoek vir hom swart balletskoene in voorraad gehou. Een of twee jaar daarna het die winkelassistent gevra ‘dans hy nog steeds?’ ”

In 2014 het die Emmerichs verhuis na Paarl en dis toe dat Jannes aangesluit het by Joy Cargill Studio of Ballet. Oor die jare was hy deel van verskeie produksies wat op die planke te sien was by die Kunstekaap-teater in Kaapstad. Dit sluit in Peter Pan, Little Mermaid, Sleeping Beauty, Romeo and Juliet en The Nutcracker. In 2018 was hy deel van Joy Cargill Studio se produksie Coppelia, wat te sien was in die Paarl-stadsaal.

Sy liefde vir dans ken geen einde en het geen perke nie. En dit wys in sy prestasies. Jannes, wat tuisonderrig ontvang, is onlangs opgeneem in die Cape Junior Ballet Company (CJB) vir 2023. Santie vertel dat hy elke jaar die Royal Academy of Dance (RAD) se danseksamen aflê. RAD is ’n internasionale dansonderrig- en opleidingsorganisasie, met sy hoofkantoor in Londen.

“Dit het gevoel of my hart ’n oomblik gaan stilstaan het. Ek is baie opgewonde en sien uit om in 2023 by CJB aan te sluit. Ek volg graag die Royal Ballet en Royal Ballet School. Daar is baie ballerinos van verskillende ouderdomme. Dit is ’n inspirasie om te sien wat ek nog alles gaan leer by Royal Academy of Dance,” sê Jannes.

Buiten dat hy daarvan hou om te dans en spronge te doen, het Jannes ook ander stokperdjies.

Santie vertel: “Jannes ry ook perd, speel dwarsfluit en dromme. Hy geniet dit om te vlieghengel wanneer tyd dit toelaat. En soos enige 12-jarige hou hy van gaming.”

Jannes is binnekort weer op die verhoog by die Kunstekaap waar hy die hoofrol in The Nutcracker sal vertolk. Die produksie word aangebied deur die Cape Town City Ballet en sal van 7 tot 23 Desember te sien wees.

  • The young ballet dancer Jannes Emmerich does not allow himself to be dictated by the stereotypes of society. His heart and soul burst with pride and passion for ballet.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article