Die top-studente van Overberg Goju-Kai met hul trofeë. Agter van links is Rochelle en Cheslan Kock, Jamie Kock, Liam van Wyk, sensei Tredoux Nigrini, shihan Francois du Plessis, sensei Charl Roux, Nadine Rix, sensei Louie Schultz, Chloe Adams en sempai Diane de Kock. Voor is De Wet Pretorius, Zelda van der Westhuizen, Shaun van den Berg, Luanne du Plessis en Tristan Rix.Foto:

Credit: SYSTEM

Op Saterdag 3 Desember het Overberg Goju-Kai en shihan Francois du Plessis die einde van 2022 met hul jaareind-toekenningsbyeenkoms gevier. Meer as 50 gesinne betrokke by die Goju-Kai het saamgekom vir die prysuitdeling en ’n heerlike ete, wat gehou is om almal vir hul ondersteuning en ’n wonderlike karate-jaar te bedank.

Trofeë is aan die topstudente toegeken.

Die uitblinker van die jaar was die Laerskool Courtrai se Jamie Kock.

Jamie het in Mei sy SA karateklere verower nadat hy die land by die SA karatekampioenskap in Durban verteenwoordig het.

“Deur harde werk, vasberadenheid en goeie deursettingsvermoë sal jy jou doel kan bereik,” het Jamie gesê.

Jamie was vanjaar ’n gr.7-leerder by Laerskool Courtrai en neem reeds ses jaar aan karate deel.

Hy het in Junie ook die land by die Wêreldkaratefederasie se Jeugkampioenskap in Kroasië verteenwoordig.

In September het Jamie Suid-Afrika ook by die Karate Statebondspele in Birmingham, Engeland, verteenwoordig. Hy het tot die eindronde deurgedring, maar het teen Indië verloor. Jamie het dus ’n silwermedalje hier verwerf.

Vir hierdie merkwaardige prestasies het die jong Jamie die Goja-Kai se trofeë ontvang vir Sport Karateka van die Jaar en ’n toekenning vir enkel beste prestasie.

“Hy is ook aangewys as die Beste Algehele Karateka, as ’n voorbeeld van alles wat karate binne en buite die dojo beteken,” het Francois du Plessis van Overberg Goju-Kai gesê.

“Jamie is ’n beleefde en nederige jong man en is ’n krediet vir sy ouers en hierdie dojo. Ons weet dat hy nog baie wonderlike dinge sal vermag.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article