Inwoners in Zanddrift is ongelukkig omdat hulle vir ure lank sonder water was.Foto: Lise Beyers


’n Inwoner van Zanddrift in Noorder-Paarl is ontstoke omdat hul watertoevoer sonder enige vooraf kennis afgesny is.

Volgens die inwoner word daar tans gewerk aan ’n nuwe ontwikkeling aan die bokant van hul woonbuurt en is dit volgens haar heel moontlik hierdie bouwerk wat aanleiding kon gegee het tot die wateronderbreking wat hulle twee dae na mekaar ervaar het.

“ ’n Groot probleem het egter sy kop verlede week (2 Desember) uitgesteek deurdat ons water sommer sonder kennisgewing afgesny word vir ’n hele paar uur op ’n slag. Dit het twee keer verlede week gebeur. Moet inwoners nie in kennis gestel word wanneer daar aan waterpype gewerk word en ons vir ure sonder water gaan sit nie? Dit was egter baie ongerieflik gewees. Almal in Zanddrift was hewig ontsteld, want ons moes rondskarrel vir water toe ons ná werk by die huis aankom.”

Volgens Marius Wüst, uitvoerende direkteur: ingenieursdienste, by Drakenstein-munisipaliteit was die wateronderbreking op 2 Desember in Noorder-Paarl, wat Coetzeelaan (Zanddrift) ook insluit, as gevolg van noodherstelwerk.

“Omdat dit nie beplande werk was nie, kon Drakenstein-munisipaliteit nie vooraf kennisgewings aan inwoners uitdeel soos die gebruik met beplande wateronderbrekings (meestal vir nodige onderhoudswerk) is nie. Die noodherstelwerk is dieselfde dag voltooi,” het Wüst.

“Omdat ’n groot volume water besig was om verlore te gaan op die hoofwaterpyp te Berlynstraat, moes die munisipaliteit noodgedwonge die toevoer toedraai om die noodherstelwerk te kon uitvoer. Dit was op die koppelingspunt van die nuwe waterpyp wat die Optenhorst-ontwikkeling en Coetzeelaan van water voorsien,” het Wüst verduidelik.

Volgens Wüst word verdere beplande werk deur die ontwikkelaar se kontrakteur beplan. “Die kontrakteur beoog om ’n afsluitklep op die nuwe pyp te installeer te Coetzeelaan. Vir dié beplande werk sal die nodige kennisgewings aan al die betrokke verbruikers wat deur die onderbreking geraak gaan word, uitgedeel word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article