Premier Alan Winde het vandag die eerste vergadering van sy nuutgestigte Energieraad gehou.
Dié vergadering is gehou teen die agtergrond van die eerste rondte van fase 6-beurtkrag alvorens intensiewe energie verbruikers se bedrywighede in die nuwe jaar weer hervat word.
Volgens ’n persverklaring wat deur Winde uitgereik is, het die Energieraad tydens die vergadering die grondslag gelê vir die wyse waarop die raad gevorm sal wees en sy prioriteite uitgewerk; soos om te verseker dat die Wes-Kaap se energie veerkragtig is.
Voormalige Eskom-bestuurder Alwie Lester, wat as ’n energie-adviseur in die kantoor van die premier aangestel is, is ook tydens die vergadering amptelik aan ander raadsamptenare voorgestel.
“Mnr. Lester het van die staanspoor af geen tyd gemors nie,” het die premier uitgewys.
“Dringendheid is nodig as ons, ons ekonomie wil red en ons Growth for Jobs-strategie wil voortsit. Beurtkrag kos Suid-Afrika en ons provinsie miljarde aan verlore geleenthede.
“Daar word konserwatief beraam dat fase 6-beurtkrag Suid-Afrika tussen vier en ses miljard rand per dag kos,” het Winde beklemtoon.
Hy het bygevoeg dat die dringendheid wat nodig is om hierdie katastrofe aan te spreek, by die nasionale regering pynlik afwesig is.
“Die Wes-Kaap moet so gou moontlik onafhanklik van Eskom word,” meen hy.
By die vergadering is ’n plan van aksie, beide medium- en langtermyn – bespreek, wat ook al die hulpbronne behels wat die Wes-Kaapse regering tot sy beskikking het.
Die raad het besluit dat:
• sy werk data-gedrewe moet wees;
• ’n mengsel van energiebronne oorweeg moet word;
• alle lewensvatbare geleenthede ondersoek moet word; en
• die mees kwesbare in die provinsie altyd in gedagte gehou moet word aangesien hulle die meeste ly as gevolg van meedoënlose kragonderbrekings, wat vanjaar voorspel word om te vererger.
Provinsiale minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning Anton Bredell het gesê: “Dieselfde reaksie wat die Wes-Kaapse regering toegepas het om Covid-19 te veg moet gebruik word om die energiekrisis aan te spreek.”
Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, het gesê, “’n Kern benadering is om die mark verder oop te stel vir onafhanklike kragprodusente (IPP’s) om aan boord te kom en ons te help beurtkrag te beëindig.”
Volgens die verklaring het die raad onderneem om die kundigheid van sleutelbelanghebbendes in die private sektor in te sluit.





