En voor jy kon sê struifkoek is die feestyd alweer iets van die verlede.

Al wat oorbly, is die paar skreeusnaakse grappies op sosiale media wat die spot dryf met die yskas wat eens vol was of die een of ander resep wat verband hou met noedels en die klaagliedere wat gepaard gaan met ’n laaaaang Januariemaand wat voorlê.

Met die einste Januarie wat so skielik sy opwagting gemaak het, hoor jy meer as gereeld daai ou bekende “new year, new me”-gesegdes. Al wat ek so skramsweg prewel as ek nog ’n keer een van daai gesegdes lees, is “ja wat, lekker oormaat ingesit vir die feestyd, nou weer sukkel om in daai werkbroek te pas vir die nuwe jaar”.

Glo my, oor Nuwejaarsvoornemens is ek glad nie sinies nie. Natuurlik mag jy daai wenslysie vir die jaar wat voorlê, saamstel. En as dit deel uitmaak van jou 5 tot 10 jaar-plan, nog te beter. Dis mos maar altyd lekker as ’n mens die groei en vooruitgang kan sien en beleef in ander. Ek was en sal altyd ’n voorstander wees om ander se suksesse te vier.

Daar is net vir my die een groot verskil as ek hierdie nuwe jaar betree en dit is dat ek dit met ’n heeltemal nuwe perspektief benader. Hoe dan so, mag jy dalk vra. Wel, die afgelope klompie jare (veral die pandemie-tydperk) het die meeste van ons tot die groot besef laat kom dat jy daardie 5- tot 10 jaar-plan wat met soveel sorg en detail saamgestel is met ’n oopkop moet benader, want daai einste planne kan binne ’n ommesientjie blitsvinnig verander. Die aanpasbaarheid van die mens binne sulke omstandighede moet dan die knoop deurhak vir sodanige mense. En glo my, ek is een van daardie mense wat baie aanpasbaar moes wees, gegewe my veranderende omstandighede.

Waar ek dus eens uiters gefokus was om elke detail van my kort- tot langtermynplan tot uitvoering te bring, het ek deesdae ’n baie meer aanpasbare aanslag. Die groot droom en plan is nog steeds daar, maar hoe ek daar gaan uitkom is deesdae vir my die lekker deel van die reis op pad soontoe. En daai reis is minus die onnodige stres en bekommernis of die plan wel sal uitwerk. Met my nuwe benadering en uitkyk op alles het ek telkemale geleer dat dinge wel sal uitwerk soos dit moet, of dalk nie. En die suksesse van my plan word al meer sigbaar en dit spoor my aan om my nuwe uitkyk op al my persoonlike en beroepsdoelwitte nog meer te omarm. As een deeltjie van die groter plan dalk nie gou genoeg uitwerk of glad nie uitwerk nie, is daar oorgenoeg skietgoed in my arsenaal van geloof, kreatiwiteit, realistiese optimisme en veerkragtigheid om die koers van my plan dienooreenkomstig aan te pas.

En as my jaar dan dalk nie so goed soos joune begin het nie, is ek baie rustig daaroor. Daarmee saam wens ek jou net nog meer van die beste toe vir die jaar wat blink uitgestrek voor ons lê. My rustigheid oor my eie voornemens vir die komende jaar lê daarin dat ek baie gemaklik in my eie baan hardloop. Daar is absoluut geen onnodige kompetisie met my maatjie in die volgende baan nie. Ek hardloop my eie reis en kompeteer teen myself. Wat ’n bruisende bevrydende ervaring!

Die afgelope klompie jare het my kom leer dat my karakter rotsvas moet bly. Dat daar altyd tyd en plek moet wees om ander saam op reis te neem en nie vir een oomblik suinig te wees om die kosbare edelstene waaroor ek en jy beskik met ander te deel nie.

Sien ek in die jaar wat voorlê na nog groter oomblikke as die jaar vantevore uit? Natuurlik. Glo my, ek is kinderlik opgewonde om alles wat vir my in stoor is vir hierdie jaar in ontvangs te neem. Dit sluit in al die harde werk, die nuwe mylpale, die frustrasie, teleurstellings, aanmoedigings en akkolades wat daarmee gepaard gaan. Dus, die volle pakket van hierdie jaar. Ek kan nie wag om, as deel van my beplanning vir hierdie jaar, nog wonderlike skaterlag-oomblikke saam met goeie vriende te deel nie. En om die planne wat alreeds in aksie is tot nog groter hoogtes te neem nie. Die jaar wat verby is, het my aangenaam verras met al die mooi en groei wat dit vir my ingehou het. Ek wil stilletjies rieldans van lekkerkry as ek net daaraan dink wat hierdie jaar vir my voorlê!

Doen jy net jy, het iemand eendag gesê. Beste advies wat ek in ’n lang tyd gehoor het, want wat is nou lekkerder as om hierdie jaar met ’n unieke JY-ingesteldheid te betree. Wat ook al jou omstandighede, jy sal die voorreg hê om jouself te kan en mag wees. Sorg net dat dit ’n dapper, vrolike en gedetermineerde jy is. En laat niks of niemand jou van koers af bring om hierdie jaar die beste een nog vir jouself te maak nie . . . want jy het dit, gebore met dit, kan nie help nie!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article