Een van die talle lafenissoekers duik verlede naweek in die Bergrivier.Foto: Ernest Kilowan

Credit: SYSTEM

Met die warm somermaande wat nou amptelik aangebreek het, is die oewer van die Bergrivier in die Paarl weer ’n warboel van aktiwiteit.

Die aksie hier het reeds voor Kersfees begin en het op die tweede Nuwejaar (2 Januarie) hoogty gevier toe minstens 500 mense op die oewer van die rivier in die Bergrivier Boulevard (Paarl) gesien is.

Hoewel talle van hierdie mense, wat weens die versengende Paarlse hitte lafenis soek, hulle ordelik gedra onder die skadu van die koeltebome wat die oewer versier, het talle mense steeds baie van die Drakensteinse munisipale ordonnansies oortree.

Onder meer spring hulle van die Arboretum-voetoorgang af, misbruik drank in die openbaar en dra by tot die grootskaalse rommelstrooiery langs die rivier.

Aan die einde van verlede jaar het die Drakenstein-munisipaliteit verskeie voorsorgmaatreëls aangekondig om die chaos wat dikwels in die somer afspeel, te beheer.

Verlede jaar was inwoners van die Paarl stomgeslaan toe duisende mense vroeg in Januarie op die rivier toegesak het, talle per bus van Kaapstadse voorstede af ingery en chaos langs en in die rivier gesaai het.

Die situasie (asook ander knellende situasies van wanorde in die Drakenstein-vallei) het uiteindelik gelei tot nuwe konsepverordenings vir openbare geriewe, maar dit word oënskynlik nog nie toegepas nie.

Gerald Esau, die direkteur gemeenskapsdienste van die munisipaliteit, het gesê die gebied het op 8 Januarie die hoogste temperatuur tot dusver hierdie somerseisoen beleef en ongeveer 400 mense het op dié dag op die Bergrivier Boulevard, Arboretum en Witsand (oorkant Meadow Feeds) toegesak. Besoekers was deurentyd bedagsaam en geen noemenswaardige voorvalle is aangemeld nie.

Hy het gesê ongeveer 250 besoekers is op 2 Januarie in die gebied getel. Hierdie dag het mense later as gewoonlik gebly en munisipale werkers het vullis eers die volgende oggend omstreeks 5:30 verwyder.

Esau het verder gesê hul wetstoepassings- en verkeersafdelings het die munisipaliteit se veiligheidsplan gedurende hierdie feesseisoen nougeset uitgevoer.

“Reg en orde is toegepas en besoekers kon hulle binne die raamwerk van die wet geniet.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article