Inwoners van die Paarl en Wellington is ontnugter deur die nuus dat die verskriklike reuk wat oor dié dorpe hang, aan die krematorium in Dal Josafat toegeskryf kan word.
’n Inwoner het aan Paarl Post gesê sy sal die reuk beskryf as “erger as ’n bos wat brand”.
Baie inwoners is diep ongelukkig hieroor omdat hulle voel dat die gasse wat uitgelaat word ’n gesondheidsrisiko is.
Jo-Anne Otto, woordvoerder vir die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit (KWDM), sê hulle kan die gemeenskap van Drakenstein verseker dat alle prosesse wat nodig is om die veiligheid van luggehalte te verseker gevolg is.
Volgens inwoners is die reuk saans laat en soggens vroeg op sy ergste. Baie kla ook dat hulle kopseer ontwikkel en dat die reuk onuithoudbaar is.
Otto voeg by dat inwoners se kommer “met betrekking tot reuke wat deur die Drakenstein-krematorium vrygestel word” eers Maandag (9 Januarie) onder die aandag van die luggehalte-beampte van KWDM se gesondheidsdienste gebring is.
“Die situasie is onmiddellik deur die luggehalte-beampte ondersoek. Daar is vasgestel dat daar ’n voorval die aand van Saterdag 7 Januarie omstreeks 22:00 was. Daar is toe ook bevind dat die verbinding aan ’n termometer (thermocouples), wat die handhawing van optimum temperatuur verseker, foutief was. Die foutiewe verbinding het veroorsaak dat die primêre verassings lokaal afskakel, wat tot die vrylating van oormatige rook gelei het.”
Otto sê die nodige herstelwerk is gedoen en die probleem is opgelos.
“Dienste is terug na normaal by die Drakenstein-krematorium. Die krematorium het maatreëls in plek gestel om te verseker dat verbindings en skakelaars wat elektrisiteit benodig, in stand gehou word tydens Eskom beurtkrag.
“Die luggehalte-beampte en verantwoordelike omgewingsgesondheidspraktisyn van KWDM se gesondheidsdienste sal voortgaan om die situasie te monitor,” sê Otto. Sy verduidelik verder dat ander moontlike bronne waar die stink reuk moontlik ontstaan ook ondersoek sal word.
• Residents from Paarl and Wellington were shocked to hear that the terrible smell that is hanging over the towns, originates from the crematorium in Dal Josaphat.





