Mnr. Keto, Hendrik Marais, gee raad oor hoe om jou nuwe self vanjaar te ontdek.


Die feestyd is verby en dis ’n nuwe jaar. Die meeste van ons wil die vakansievetjies afskud en het die jaar met allerlei goeie voornemens vir ’n beter self begin.

Hendrik Marais, die skrywer van The Ultimate Keto Lifestyle, een van 2022 se topverkopers, gee praktiese raad oor hoe om ’n gesonder leefstyl te handhaaf.

Wat is keto en wat is die voordele daarvan?

’n Ketogeniese dieet is ’n hoëvet-, laekoolhidraat-dieet wat die liggaam dwing om vet in plaas van koolhidrate te verbrand vir energie. Die grootste voordele van hierdie dieet is dat dit jou energievlak verhoog, hongerpyne en inflammasie verminder, en jou bloedsuikervlak stabiliseer. Dit is ’n maklike, volhoubare dieet wat ideaal is vir gewigsverlies.

Ná ’n oordadige Feestyd, wat behoort die eerste stap te wees om gesonder te begin leef?

Waak daarteen om op onvolhoubare maniere te probeer gewig verloor. Kies ’n klein aantal gesonde gewoontes en fokus daarop om dit elke dag te implementeer. Stel vir jouself eenvoudige doelwitte wat maklik is om te haal. Byvoorbeeld: maak dit jou onmiddellike doel om alle gemorskos, suiker en koolhidrate uit te sny, daagliks te stap en genoeg water te drink.

Wat is noodsaaklikhede wat in jou keto- ys- of koskas moet wees?

’n Gesonde ketogeniese dieet bestaan hoofsaaklik uit hoëgehalte proteïne soos eiers, vleis en vis. Een porsie proteïne is ongeveer 120-150 g vleis of vis (rou gewig), of 3-4 eiers. Eet daarby 1-2 koppies groen groente of blomkool, wat ook sal verseker dat jy genoeg vesel inneem. Laastens, voeg gesonde vette by, soos 50-100 g avokadopeer of 2 eetlepels olyf- of klapperolie, botter of ghee, olywe, neutbotter (soos suikervrye grondboontjie- of amandelbotter) of 30 g sade.

Onthou, om gewig te verloor moet jy minder kalorieë inneem as wat jou liggaam daardie dag gaan opgebruik. ’n Ketogeniese dieet is hoog in vette, en omdat 20 g vette omtrent 2,5 keer soveel kalorieë bevat as 20 g proteïne of 20 g groente, is dit maklik om te veel vette te eet en dus nie gewig te verloor nie. Jy hoef egter nie kalorieë te tel as jy begin deur drie klein etes per dag te eet volgens die riglyne hierbo nie. Hou dan net ’n ogie op jou gewig, en as jy nie gewig verloor nie, of stadiger verloor, maak jy net jou porsies kleiner of eet twee etes per dag in plaas van drie.

Wat is die beste peuselhappies hiervoor?

Fokus daarop om proteïne en gesonde vette te eet. ’n Bietjie biltong (40 g) met ’n eetlepel olyfolie en ’n bietjie knoffel en rissies is ’n perfekte peuselhappie. Of groenterepies met maaskaas. Vir diegene met ’n soettand kan ’n skommel van weiproteïnpoeier (whey protein) gemeng met twee eetlepels suikervrye neutbotter ook goed werk.

Dit is egter nie ’n goeie idee om te peusel as jou doelwit is om gewig te verloor nie. Daar is niks daarmee verkeerd om byvoorbeeld twee etes en een peuselhappie per dag te eet nie, mits jy dit beplan het. Waak egter teen onbeplande etes en peuselhappies. Beplanning is van kardinale belang.

’n Gesonde leefstyl kan nie in net ’n paar weke bereik word nie, ook nie eetgewoontes nie – hoe stel jy voor kyk mense die toekoms in hiermee?

Wees geduldig, en vertrou op die proses. Maak dit vir jouself onmoontlik om te misluk deur jou omgewing so in te rig dat dit ’n gesonde leefstyl aanmoedig en ondersteun. Hou op om suiker te gebruik, en moenie daardie kossoorte koop wat jy nie kan ophou eet voor alles op is nie. Beplan jou etes en jou dag vooruit. Fokus op ’n klein aantal gesonde gewoontes, en beoefen hulle getrou elke dag. Merk elke suksesvolle dag op ’n almanak af en hou rekord van hoeveel jy eet en oefen en wat jou gewig is.

Dit help ook baie om ’n ondersteuningsgroep te hê. Vra jou familie, vriende en/of kollegas om dit saam met jou te doen, of sluit by die Keto Lifestyle-groep op Facebook aan waar ons mekaar motiveer en ondersteun en waar jy ook elke maand aan ’n gratis 5-dag-Reset-program kan deelneem.

Besoek gerus die Keto Lifestyle – South Africa-groep by https://www.facebook.com/groups/1276379452456863.

Met geduld en deursettingsvermoë sal die dinge wat nou vir jou moeilik is later vir jou tweede natuur word.

Onthou, niemand vra jou om perfek te wees nie. Ons is almal volwassenes met ons eie probleme. Die lewe gooi ons almal van tyd tot tyd rond. Die belangrikste om nooit tou op te gooi nie, maar om net te volhard. As jy gesonde gewoontes aanleer wat maklik is om te handhaaf, is dit maklik om ná ’n slegte dag of twee terug te keer na die goeie gewoontes.

Hoe beloon jy jouself vir elke mylpaal wat jy behaal?

Ons mense is mos lief vir kos en kuier, en daar is niks daarmee verkeerd nie. Maar ons het egter ook die geneigdheid aangeleer om onsself met kos te troos en te beloon. Fokus liewer daarop om jouself op ander maniere te beloon. Bespreek ’n klein “vakansietjie” vir jouself oor twee of drie maande van nou af, en werk hard aan jou gesondheid tot dan. Rus dan daardie naweek, en volg dadelik weer jou nuwe leefstyl sodra jy terugkom by die huis. Jy kan ook jouself beloon met aktiwiteite en dinge soos stap- of oefenskoene vir elke mylpaal wat jy behaal. Maar op die ou einde is beter gesondheid steeds die grootste beloning wat jy kan kry. Die lewe is ’n duisend keer lekkerder as jy in beheer is van jou eie gesondheid.

Hoe motiveer jy jouself vir so ’n lewensverandering?

Indien jy kinders het, is dit een van die grootste motiverings om gesond te leef. Jy doen dit nie net vir jouself as hul versorger nie, maar ook om seker te maak jou kinders leer die regte gewoontes by jou aan.

Soms is dit ook nodig om die bul by die horings te pak. Klim op die skaal, meet jouself en neem foto’s: van voor, van agter en van elke kant af. Dit gaan dalk erger lyk as wat jy gedink het, maar dit is soms nodig om die werklikheid reguit in die oë te kyk – dit is ’n uitstekende manier om jouself te motiveer. Later, sodra jy goeie vordering gemaak het, kan jy ook met trots na jou foto’s terugkyk en spog met al die harde werk wat jy gedoen het. Dit is ’n wonderlike manier om ook ander mense te motiveer om gesonder te lewe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article