Paarl se Wendy Kaizer-Philander is sopas as die DA se Wes-Kaapse hoofsweep aangestel.


Die bekende Paarlse politieke figuur Wendy Kaizer-Philander sal voortaan nog groter skoene vir die DA in die Wes-Kaapse provinsiale parlement vol staan. Die party het verlede Vrydag aangekondig dat sy as die provinsiale wetgewer se hoofsweep aangestel is.

Kaizer-Philander sê sy is dankbaar vir die Hemelse Vader en voel diep geëerd dat sy as die hoofsweep aangestel is.

“Ek besef dat die taak voor my nie maklik sal wees nie, maar ek is dankbaar vir die vertroue wat premier Alan Winde in my het om die DA-koukus as hoofsweep te dien. Die afgelope jaar was nie ’n maklike een vir ons koukus nie, tog het my kollegas voortgegaan om hul werk te doen om die mense van ons provinsie met integriteit te dien.

“Ek het geen twyfel nie dat ons sal voortbou op hierdie werk soos ons aan die begin van ’n nuwe jaar staan. Ek sien ook daarna uit om die werk in te sit om die provinsiale parlement verder te versterk as ’n toonaangewende wetgewer in Suid-Afrika en om te verseker dat dit tot die beste belang van die mense van die Wes-Kaap werk.”

Premier Alan Winde het haar aanstelling met ope arms verwelkom.

“Ek glo Kaizer-Philander is die regte persoon vir hierdie belangrike pos en sal ’n belangrike rol speel om die werk van ons provinsiale parlement te bevorder. Waar sy ook al gedien het, het sy dit met trots, moed en waardigheid gedoen,” sê hy.

Kaizer-Philander het voorheen as wyksraadslid en burgemeesterskomiteelid by Drakenstein-munisipaliteit gedien, voordat sy in 2018 as ’n lid van die provinsiale parlement ingehuldig is. Sy het ook as die DA se woordvoerder oor gesondheid en voorsitter van die gedragskomitee gedien.

Dit is nie ’n maklike taak wat voorlê nie, maar Kaizer-Philander sien daarna uit om haar verantwoordelikheid met albei hande aan te gryp.

“Die werk van die hoofsweep is belangrik en verseker beide die politieke en administratiewe funksionaliteit van die wetgewer, sowel as die gehalte van die bestuur van die parlementêre program. Die hoofsweep is ook die voorsitter van die programmeringsowerheid wat die skedule van die Huis reël, orde van sprekers, die organisering van lede van die wetgewer se komitees verseker, die verspreiding van politieke ampte, meerderheidsposisies kommunikeer en die bestuur van die DA politieke vloer, onder meer.”

Kaizer-Philander is ook bekend daarvoor dat sy jongmense, veral vroue, help bemagtig.

Sy is ook deel van die DA se vrouenetwerk wat hulle daarop toespits om vroue in die provinsie te bemagtig.

“As ’n lewenslange kampvegter vir vroue se bemagtiging en verteenwoordiging voel ek dis ook belangrik om jong vroue te herinner dat hul drome en aspirasies geldig is. As ’n dogter van New York in Paarl-Oos is dit ’n voorreg om in dié hoedanigheid te kan dien.

“Ons jeug veral moet glo dat jou oorsprong, van geboorte, nie jou toekoms bepaal nie en dat hulle by gemeenskapsake en aktiwiteite betrokke moet raak,” voeg Kaizer-Philander by.

Sy vul die posisie as hoofsweep nadat Lorraine Botha, wat voorheen die pos gevul het, verlede Augustus oorlede is.

  • Wendy Kaizer-Philander of Paarl will fill even bigger shoes in the DA’s Western Cape provincial parliament. The party announced last Friday that she has been appointed as the provincial legislature’s chief whip.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article