Wellingtonners is Maandag vir byna nege ure sonder elektrisiteit gelaat te midde van die kwik wat tot 40 °C deur die dag gestyg het.

Volgens die Drakenstein-munisipaliteit het Eskom hom ingelig oor ’n onbeplande kragonderbreking wat Wellington raak.

Die munisipaliteit het ’n Facebook-plasing gedeel waarin Eskom ’n aanvanklike hersteltyd tot 18:00 geskat het, wat later tot tussen 18:30 en 19:00 verleng is.

Dié onbeplande kragonderbreking het Wellingtonners uiteindelik van 12:45 die middag tot ná 21:00 die aand in ’n hittige duisternis gelaat.

Talle Wellingtonners het hul frustrasie in kommentaar op Facebook-plasings hieroor uitgespreek.

“My ergste dag in Wellington – 16 Januarie 2023. My nuwejaarsvoorneme en doelwitte is aan flarde,” het een man geskryf, terwyl ’n vrou gesê het “dit voel of die hitte sommer saam met die moer-meter styg, jissou”!

Die onbeplande onderbreking was weens ’n lyn-fout by ’n oorhoofse kragkabel, het Eskom aan Paarl Post bevestig.

Die Eskom-woordvoerder Kyle Cookson verduidelik Eskom-operateurs het by inspeksie besef ’n laning bome aan ’n 66kV-Eskom-kraglyn geraak het. Eskom het nie bekend gemaak waar hierdie fout opgespoor is nie.

“Eskom het die dienste van ’n plantegroei-bestuurskontrakteur verkry om die bome te verwyder,” sê Cookson.

“Ná die verwydering van die plantegroei, wat kragtoevoer geraak het, is die krag om 21:15 die aand herstel.

“Eskom vra om verskoning vir enige ongerief wat hierdeur veroorsaak is.”

  • Wellington residents were left without electricity for altogether nine hours on Monday amid a heatwave throughout the day.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article